100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

NHS-atlete wen ‘n hele handvol medaljes by SA’s

Written by on April 13, 2021

Die tien atlete van Hoërskool Nelspruit (NHS) wat Mpumalanga vanjaar by die nasionale atletiekbyeenkoms in die Paarl verteenwoordig het, het die naweek ‘n allemintige vyf medaljes gewen.
“Daar is min skole landwyd wat met so ‘n geil oes van een goue-, een silwer- en drie bronsmedaljes na so ‘n prestigeryke byeenkoms, kan spog,” sê die skool.
Ses Nellies-rekords is ook tydens die byeenkoms verbeter.
Ashley Erasmus het ‘n eerste plek behaal in die skyfwerp (o.18) met ‘n gooi van 48,20 m. Sy het reeds tydens die uitdunronde haar eie Nellie-rekord van 43,48 m (o.16) na 43,80 m opgeskuif, maar die wengooi in die finaal was bykans vyf meter verder.
Dit plaas haar tot dusver in die nr. 6-posisie op die wêreldranglys. Cedricka Williams van Jamaica lê tans eerste met ‘n afstand van 51,27 m.
Ashley het ook ‘n silwermedalje gewen in gewigstoot. Haar gooi van 17,46 m was haar beste ooit en het die skool se rekord laat spat en plaas haar in die tweede plek op die internasionale ranglys.
Sy het in beide items die maksimun van 1 000 punte op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se tabel verdien.
Nolwazi Mashaba, wat verlede jaar in Lowveld High was, het goud in driesprong en silwer in verspring behaal.
Hoërskool Rob Ferreira se Junior Mondlane was derde in verspring met ‘n afstand van 7,46 m.
Soos Ashley (in diskus) neem hulle ook die naweek deel aan die senior kampioenskappe waar hulle moontlik kan kwalifiseer vir die wêreld juniorkampioenskappe wat later vanjaar in Kenia plaasvind.

NHS se Handré van der Merwe het brons gewen in beide die 110 m- en 400 m-hekkies (o.18). Handré het ook beide die Nellie-rekords in hekkies (o.17) verpletter: Sy 14.03 sekondes in die 110 m finaal, het sy eie rekord van 14.10 laat spat; en met ‘n pragtyd van 52.83 in die 400 m-hekkies het hy Devon Nell se rekord van 2018 met ‘n volle sekonde oortref.
Marco Capazorio het ook gemaklik na die finaal deurgedring is albei items en tye van 14.57 en 54.30 aangeteken.
Shanese de Clerck (o.18) het haar eie rekord van 5,45 m in verspring verbeter om derde te eindig met ‘n uitstekende afstand van 5,67 m. Shanese het vanjaar met beserings gesukkel, maar nogtans in die uitdunne van driesprong (o.18) met ‘n baie goeie 11,29 m na die finaal deurgedring.
Die skool sê hulle is met reg baie trots op al die atlete en hul entoesiastiese afrigters wat, ondanks die uitdagings wat die ongemaklike Covid-situasie ook vir atletiek gebied het, nooit die visiere laat sak het nie en uiteindelik met puik vertonings en prestasies beloon is


×