100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga-skole so te sê gereed

Written by on June 4, 2020

Mpumalanga se skole behoort volgende week gereed te wees om die gr. 7- en gr. 12-leerlinge terug te verwelkom.
Die heropening van skole vir hierdie graadgroepe was vir Maandag beplan, maar is Sondag ter elfder ure uitgestel.
Hulle sal nou op 8 Junie terug mag keer, mits die betrokke skool gereed is.
Intussen is onderwysers en bestuurspanne terug op hul poste ter voorbereiding van die leerlinge se terugkeer.
Die land se skole is al sedert die grendelstaat afgekondig is, gesluit. Volgens die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, moet provinsies en distrikte self verseker dat fisiese afstande gehou word.
Woordvoerder vir Mpumalanga se onderwysdepartement, Japer Zwane, verwag dat al die skole in die provinsie Maandag gereed sal wees.
Volgens hom is 98% van skole ontsmet en beskermende kleredrag sowel as saniteerders is aangekoop.
Hy voeg egter by dat gereedheid ‘n deurlopende proses is.

“Ons is tevrede met die vordering,” sê Zwane. “Ons is optimisties dat die skole Maandag gereed sal wees.”
Vir nou sal die gr. 7- en gr. 12-leerlinge hul skole vir hulself hê met nie meer as 20 leerders per klas nie. Hulle sal ook in klasverband pouse hou.
Wat gebeur wanneer meer graadgroepe ook begin terugkeer skool toe, is egter ‘n ope vraag.
Volgens Zwane sal opsies met beheerliggame bespreek word.
“Vir nou is ons fokus daarop om ons gr. 7- en gr. 12-leerlinge terug te verwelkom,” sê hy.
Die departement is ook tevrede met die oorwegend positiewe reaksie van ouers. Volgens hom sien die meeste daarna uit dat skole weer heropen.
Hy voeg wel by dat skole wat nie alles gereed het nie, nie toegelaat sal word om te heropen nie.
“Ons wil lewens beskerm en die akademiese jaar red, maar nie ten koste van enigiemand se veiligheid nie.


×