100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Inperking: Baie salonne sal nie van skade herstel

Written by on June 4, 2020

Die skoonheidsindustrie se vooruitsigte is troebel.
Haarkappers en skoonheidswerkers is een van die min bedrywe wat in vlak 3 van die inperkingsregulasies steeds geen sake mag dryf nie.
Regter Norman Davis het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria die regulasies van vlak 3 en 4 van die inperking is ongrondwetlik bestempel.
Die Mbombela-gebaseerde arbeidskonsultant, Lionel Lerm, stem saam dat dit arbitrêr is.
Hy voorspel donker dae vir die bedryf wat ‘n magdom werksgeleenthede skep. Baie daarvan is reeds tot niet.
Uit nood moes baie mense ook hul eie hare en naels begin doen en waar al hoe meer mense sukkel om kos op die tafel te hou, sal die bedryf, wanneer hulle mag heropen, as ‘n luuksheid aan die agterspeen suig, voorspel hy.
Volgens Lerm gaan dit baie lank neem vir haar- en skoonheidsalonne om te herstel, as hulle hoegenaamd kan.

Davis het in sy uitspraak onder meer na haarkappers verwys wat van hul regte tot waardigheid, gelykheid en die reg om ‘n inkomste te verdien ontneem word.
Hy het die voorbeeld gebruik van ‘n enkelma wat nie na haar gesin kan omsien nie, terwyl minibusse vol mense wat naby aan mekaar sit, verby haar ry.
Die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, het 14 dae om die regulasies aan te pas. Die regering kan ook teen die bevinding appelleer. Intussen bly die regulasies in plek.
Die DA stem saam dat daar geen rede genoem hoekom mense in die skoonheidsindustrie nie sake mag dryf nie, al is higiëne en ontsmetting deel van die bedryf.
Hulle het Dlamini-Zuma met regsaksie gedreig sou sy nie teen Woensdag die redes hiervoor verduidelik nie.
Dean Macpherson, die DA se skaduminister vir handel en nywerheid, sê die kriminalisering van die persoonlike versorgingsdienste is irrasioneel, arbitrêr en onwettig.
“Dlamini-Zuma het nog geen bewyse gelewer oor hoekom hierdie industrie nie kan terugkeer werk toe nie. Dit is heeltemal onaanvaarbaar. Duisende mense in Suid-Afrika verdien ‘n maandelikse inkomste daardeur.”
Lerm sê dit is moeilik om te bepaal presies hoeveel mense in die Laeveld hierdeur geraak word, maar dit is “’n magdom”.
“Een van my kliënte het vir 60 mense werk gegee. Nie meer nie.”

 


×