100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga rampbestuur vra dat mense van die paaie afbly

Written by on February 14, 2023

Die regering het ‘n nasionale ramptoestand afgekondig om in te gryp ná wydverspreide oorstromings wat groot dele van die land raak.
Rampbestuur in Mpumalanga vra dat mense sover moontlik van die paaie afbly, gegewe die volgehoue oorstromings.
Jacques Benade sê veral Nkomazi word erg geraak. Hulle het reeds versoek dat skole in die area sluit en mense eerder van die huis af werk.

Huise het oorstroom, voertuie is deur vloedwater meegesleur, en damme en rioolwerke loop oor. Paaie en brûe is ook beskadig.
Benade sê die situasie verander by die minuut.
“Al die paaie is ‘n gemors, wat ook ons pogings kniehalter,” sê hy.

Die R536 tussen Sabie en Hazyview.

In Mpumalanga is vyf mense sedert die naweek meegesleur. Volgens Benade is twee liggame tot dusver gevind.
Hy voeg by dat watervlakke reeds dié van die vloede van 2000 oortref.
Lees meer: Watervlakke oortref die van 2000, nog reën verwag
Rampbestuur in die Krugerwildtuin bly ook op ‘n hoë gereedheidsgrondslag weens oorstromings.
Die Krokodilbrug-toegangshek is steeds gesluit weens die brug wat oorstroom.
Die vlakke van die Sabie- en Msimuku-riviere word fyn gemonitor.

Die burgemeesterskomiteelid vir beplanning in Nkomazi sit hand by in Dludluma.

Die woordvoerder van die wildtuin, Ike Phaahla, sê die paaie in die park is oopgestel, maar besoekers is gemaan om versigtig te wees, veral by laagwaterbrûe.
Hy raai voornemende besoekers aan om eerder hul besprekings te skuif.

‘n Oranje vlak 9-waarksuwing vir ontwrigtende reën bly vir vandag in plek vir Ehlanzeni.
Intussen dring die VF Plus daarop aan dat die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit die wetgewing toepas wat inwoners verbied om permanente strukture binne die 50-jaar-vloedlyn te bou.

Dit na verskeie huise wat klaarblyklik onder die vloedlyn gebou is, verspoel het met die huidige oorstromings in die Laeveld.
Volgens Monique Bornman, ‘n raadslid in Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit, het die party reeds tydens ‘n onlangse raadsvergadering versoek dat daar bewusmaking rondom vloedlyne geskep word.


×