100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga loods ondersoek na Covid-19-uitgawes

Written by on August 19, 2020

Die provinsiale departemente van sport en samewerkende regering, die tesourie, Mpumalanga-toerisme-en-parkeraad (MTPA) en die Mpumalanga-agentskap vir ekonomiese groei (Mega) se uitgawes vir Covid-19 sal ondersoek word.
Premier Refilwe Mtshweni-Tsipane het Woensdag tydens ‘n mediakonferensie aangekondig dat verskeie onreëlmatighede geïdentifiseer is in hierdie vyf entiteite se keuse van verskaffers.
‘n Beperkte aantal sou glo voordeel getrek het tydens die pandemie.
Dit is teenstrydig met haar administrasie se beleid dat klein ondernemings wat veral vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede ondersteun, bevoordeel moet word.

Die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede het sedert inperking aan die begin van die finansiële jaar begin het, R6 388 435 aan Covid-19-voorkoming spandeer.
Die departement van kultuur, sport en ontspanning het R4 790 811 uitgegee, die MTPA R622 407, Mega R582 144 en die tesourie R555 813.
Die premier sal dringend ‘n onafhanklike span aanstel om die onreëlmatighede te ondersoek. Sy verwag dat dit binne die volgende twee weke afgehandel sal wees.
Waar ‘n oortreding bewys kan word, sal dit na die spesiale ondersoekeenheid verwys word.
In totaal het die Mpumalanga-regering R610 134 078 spandeer.
Mtshweni-Tsipane het ook aangedui dat die provinsie se statistieke toon dat die piek van die pandemie vir nou verby is.
Die afgelope week is veel minder gevalle aangemeld – slegs gemiddeld 307 per dag, minder as 570 die vorige week.
‘n Totaal van 21 627 positiewe gevalle is in Mpumalanga aangeteken. Van hulle het 90% herstel.

Sy het die publiek egter gemaan om versigtig te bly, om ‘n herlewing van infeksies te voorkom, aangesien die Wêreldgesondheidsorganisasie gewaarsku het dat die nuwe koronavirus vir lank met ons gaan wees.


×