100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Graskop vra dat Thaba Chweu ontbind word

Written by on August 19, 2020

Inwoners van Graskop het die minister van samewerkende regering en die presidensie gevra om Thaba Chweu-munisipaliteit te ontbind.
In ‘n brief voer die Graskop-gemeenskapskomitee aan dat hulle keelvol is vir swak dienslewering en ondeursigtigheid.
Hulle stel voor dat die munisipaliteit ontbind word en Graskop, Sabie en Mashishing (Lydenburg) elk hul eie sake behartig. Hulle wil ook direk by Eskom elektrisiteit koop.
Inwoners van hierdie dorpe is in Julie geruk deur ‘n omstrede elektrisiteitsfooi wat glo onwettig geïmplementeer is. Tariewe is ook met ongeveer 10% verhoog, alles ten doel om Thaba Chweu se Eskom-skuld van R760 miljoen te verhaal.
Die gewraakte fooi van R184,23 is Donderdag opgeskort sodat ‘n behoorlike openbare deelnameproses gehou kan word.
Inwoners in Graskop en Sabie voer egter aan dat dié vergaderings nie plaasvind soos geskeduleer nie.
Munisipale woordvoerder, Themba Sibiya, ontken dit. Hy het ook verduidelik hoekom party amptenare tydens inperking bonusse betaal moes word.
Volgens Sibiya het kwalifiserende amptenare slegs bonusse vir lang diens ontvang.

Lance Gibson die Graskop-belastingbetalersvereniging verduidelik dat die gemeenskap sedert Julie die munisipale kantore op die dorp gesluit hou. Dit het Maandag weer onder streng polisiebewaking heropen.
Hy sê hulle het die burgemeester, Fridah Nkadimeng, genooi om hul memorandum te ontvang, maar slegs die onluspolisie het opgedaag.
Gwylim Rees van Sabie se belastingbetalersvereniging sê die vergadering is Maandag uitgestel toe hulle daar aankom. Die raad was egter besig met hul eie vergadering.
“Hulle het nie die bedagsaamheid om ons te laat weet nie. Ons verstaan daar word van ons verwag om die vergaderings te reël. Ons gaan nie dit doen nie, dit is hul werk.
“Dit lyk asof dit weereens ‘n skouspelagtige mislukking van die munisipaliteit is, om die regte ding op die regte manier te doen,” sê hy.
Sibiya kon by navraag nie bevestig hoeveel vergaderings reeds plaasgevind het nie. Dit moet in al 40 wyke plaasvind, maar omdat nie meer as 50 mense elkeen mag bywoon nie, sal daar meer gehou moet word.
Volgens hom moet raadslede dit saam met hul wykskomitees reël. Sibiya verwag dat dit ten minste ‘n maand sal neem om af te handel.
Hy voer ook aan dat die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) nooit op Thaba Chweu se versoek oor die groot verhogings gereageer het nie.


×