100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Maak die grense oop, pleit toeroperatreurs

Written by on August 20, 2020

Open South African Tourism het Donderdagoggend ‘n finale poging aangewend om te pleit dat die landsgrense oopmaak.
‘n Aansienlik kleiner groepie voertuie as voorheen het weer stadig vanaf Casterbridge na die Mpumalanga toerisme-en-parkagentskap se kantore in Mbombela gery en verkeer ‘n bietjie ontwrig.

Hierdie keer het ‘n paar taxi’s ook die optog ondersteun. Dit was die derde en laaste een, sê Hylton Langley, wat die inisiatief begin het.
Hy verduidelik dat dit momentum verloor het sedert restaurante en kroeë weer mag handel en omdat interprovinsiale reis toegelaat word.
Maar, sowat 95% van plaaslike toeroperatreurs is afhanklik van internasionale reisigers om te oorleef.
Hulle sien ook geen rede hoekom grense nie veilig heropen kan word nie. Verskeie ander lande laat reeds internasionale reis toe.
Langley gaan weens persoonlike redes nie verdere optogte reël nie, en die fokus verskuif nou na die “Move one million”-beweging.

Hulle beplan ‘n landwye bewusmakingsaksie vir 5 September, maar dit is nog onduidelik presies hoe dit gaan werk.
Besoek MoveOneMillion op Facebook vir meer besonderhede oor wat in die Laeveld beplan word.
Private toerisme-operateurs het vroeër die week ‘n pleidooi aan die regering gerig om iets te doen om die plaaslike bedryf te help, nou dat vlak 2 van inperking bereik is.

Oupa Pilane, ‘n prominente plaaslike sakeman en president van die Kruger-Laeveld-sakekamer, verwag dat swak paaie, toeriste se veiligheid, en ‘n tekort aan bemarking entrepreneurs in Mpumalanga se harde werk ongedaan sal maak.
Besoekers aan die provinsie het verlede jaar met 12,5% gedaal. Pilane skryf dit toe aan misdaad en die swak infrastruktuur, wat die staat se eie toeriste-attraksies insluit.
Hy sê nou dat interprovinsiale reis toegelaat word, maar internasionale toerisme nog nie, is kompetisie tussen al nege provinsies baie straf om besoekers te lok.

“Ons is entrepreneurs en ons werk hard. Maar die provinsies wat uit plaaslike reis gaan munt slaan, is die wat hul huise in orde het.”
Dit is nie die geval in Mpumalanga nie, sê Pilane.

Die sakekamer voer aan dat verskeie faktore vir ekonomiese herstel buite die private sektor se beheer is. Dit wat die regering wel kan doen is al vir jare op die agenda, maar is nog nooit na behore aangespreek nie.
Daar is geen formele herstelplan of finansiële hulp nie.
“Dit is slegs private rolspelers se veerkragtigheid en innovasie wat verseker dat hulle steeds kan werk,” voeg hy by.
Die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het wel Woensdag tydens ‘n mediakonferensie aangedui dat provinsiale paaie op toerismeroetes hoog op hul prioriteitslys is.


×