100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga gereed vir grootste eindeksamen nóg

Written by on November 4, 2020

Mpumalanga se onderwysdepartement sê hulle is gereed vir die grootste eksamen wat hulle nog ooit moes bestuur.
‘n Totaal van 93 899 matrikulante begin môre met die eindeksamen.
Die groter aantal kandidate is te wyte aan die kansellasie van die Junie-eksamen weens die Covid-19-pandemie.
Volgens die departement se woordvoerder, Jasper Zwane, is sekuriteit opgeskerp en verwag hulle dat die eksamen glad sal verloop, soos die geval die afgelope 11 jaar was.
LUR vir onderwys in die provinsie, Bonakele Majuba, sal Donderdag die afskop van die eksamen by Tikhontele Sekondêr in Matsulu bywoon.

In Mpumalanga is daar 556 eksamensentrums.
Majuba het weereens sy waardering uitgespreek aan almal wat hard gewerk het om die akademiese jaar ‘n sukses te maak.
Gevangenes in Barberton-tronk is ook gereed vir hul eksamen. ‘n Totaal van 24 skryf vanjaar: 17 kandidate van Umlalati Learning Centre en sewe van Vuselela Leaning Centre.
Volgens woordvoerder, Mesia Hlungwani, is dit beduidend meer as die 14 wat in 2019 geskryf het.
Verlede jaar het Vuselela met ‘n 100%-slaagsyfer gespog, en Umlalati met 77,8%.
Volgens die onderwysdepartement sal daar aan alle Covid-19-regulasies voldoen word.
Dit sluit in die ontsmetting van eksamenlokale na elke sessie, asook die heeltydse dra van gesigmaskers.
Kandidate se temperature moet ‘n uur voor die aanvang van elke vraestel geneem word. Dié met ‘n temperatuur van 38˚C of meer sal in ‘n afsonderlike kamer skryf.
Skryfbehoeftes mag nie gedeel word nie. Dokumente hoef nie ontsmet te word nie, maar almal se hande moet.
Die eksamen loop op 15 Desember ten einde. Die uitslae sal op 23 Februarie bekendgemaak word.


×