100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bergvlam-onnie gekies om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig

Written by on November 3, 2020

Hoërskool Bergvlam se Louise Fullard is gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Global-onderwystoekennings.
Dié Afrikaansonderwyser en departementshoof is in Februarie by die Nasionale Onderwystoekennings aangewys as die beste in die land in die gebruik van tegnologie in lesse.
Sy was verlede jaar derde in die kategorie vir beste onderwyser in sekondêre skole. Sy gee Afrikaans Eerste Addisionele Taal.
Die minister van basiese onderwys het haar nou vir die internasionnale toekenning genomineer.
‘n Totaal van 110 lande neem deel. Die seremonie vind digitaal plaas uit Indië op 22 November.
“Ek was regtig uit die veld geslaan oor die nominasie van die minister. Ek sien dit as ‘n groot eer en geleentheid.”
Fullard het tegnologie lank voor die Covid-19-pandemie skoolgee meer digitaal gemaak het, reeds omarm.
Sy sê tieners leer makliker wanneer hulle dit geniet, en hulle hou van tegnologie.

“Ek het as deel van my navorsing vir die toekennings baie op aanlyn gefokus en besef Moodle is die beste met die meeste opsies en geleenthede.
Die skool het die kinders se data-probleem opgelos deur die lesse gratis by die busstop buite en op die perseel beskikbaar te maak vir hulle om af te laai.
“Met Covid-19 was ons skool dadelik aanyln. Die oggend wat die skool gesluit het, is Moodle geaktiveer en kon ons onmiddellik aangaan.”
Fullard, as die kenner, het haar kollegas touwys gemaak. “Jy kan nie glo hoe oorweldigend die onderwysers daarby ingekoop het en die paradigmaskuif gemaak het nie.”
Sy voeg by dat dit ideaal was toe die leerlinge alternatiewe dae by die skool was. “Nou is dit ‘blended learning’. Ons gaan nou so skoolhou.”


“Op die einde van die dag word dit deel van jou metodiek en dit is fantasties. Baie van ons neem ons lesse op. Die kind kan dan vorentoe en agtertoe gaan soveel hy wil tot hy iets verstaan.”
As ‘n onderwyser of kind nou siek word, raak niemand agter nie. Boonop kan hulle ook, met die eindeksamen wat Donderdag afskop, steeds vir matrikulante hersiening gee en vrae beantwoord op ‘n meer interaktiewe manier as wat WhatsApp-groepe toelaat.
“Kinders is geneë om in te koop. Tegnologie is vir hulle lekker, dit is wat hulle ken. Ons moet op die beste manier wat hulle leer die goed beskikbaar stel dat ons hulle entoesiasties kan kry. Wat is vir hulle interessant? Hoekom goed doen waarby hulle nie aanklank vind nie?
“Jy kry baie meer deelname as hulle iets doen waarvan hulle hou, en hulle hou van tegnologie. “Ons moet onthou, wanneer hulle na skool hier uitgaan, moet hulle kan deelneem in die wêreld en dit raak al hoe meer digitaal.
“Dit gaan daaroor om uiteindelik die kind te bemagtig,” sluit sy af.


×