100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga departementshoof op spesiale verlof geplaas

Written by on September 8, 2020

Die Departementshoof vir menslike nedersettings in die provinsie, Kebone Masange (51), is deur Mpumalanga se premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, op spesiale verlof geplaas.
Dit volg op sy arrestasie verlede Woensdag deur amptenare van binnelandse sake.
Masange het Donderdag in Pretoria in die hof verskyn op aanklagte van bedrog ingevolge die immigrasiewet.
Volgens die Valke is hy na bewering sedert 1995 onwettig in die land. Hy kom oorspronklik van Zimbabwe.
Die premier se woordvoerder, Sibongile Mkani-Mpolweni, het verduidelik dat die besluit om hom op spesiale verlof te plaas, geneem is sodat hy genoegsame aandag kan gee aan “die verwikkelinge” rondom die bewerings dat hy die immigrasiewet oortree het.

Volgens die woordvoerder van die Valke wat die saak nou ondersoek, brig. Hangwani Mulaudzi, het Masange drie verskillende identiteitsdokumente op drie verskillende datums bekom.
Die ondersoek het begin nadat die departement van binnelandse sake besef het dat hy drie verskillende identiteitsnommers het.
Volgens die Valke het Masange vir twee van sy identiteitsdokumente as ‘n Suid-Afirkaner aansoek gedoen en vir die ander een as ‘n vrygestelde burger van Zimbabwe in 1997.
“Dit is teenstrydig met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se amnestie waarvolgens ‘n aansoeker sedert Julie 1991 deurlopend in die land moes woon om te kwalifiseer.”
Masange sou glo ‘n paar maande voor die vrystelling aangekondig is, in Maart 1997, aansoek gedoen het om ‘n geboortesertifikaat en sy eerste identiteitsdokument in die Ferreirasdorp-streekskantoor in Johannesburg onder die naam Kebone Masangeni.
Volgens daardie aansoek is hy in Johannesburg gebore.
“In Mei 1997 het hy ‘n tweede identiteitsdokument bekom, maar hierdie keer het hy aangevoer hy is in Pietermaritzburg, Kwazulu-Natal, gebore,” lees die Valke se verklaring.
Volgens Masange se Facebook-blad is hy oorspronklik van Newcastle in Kwazulu-Natal.
Hy het in Januarie 2007 ook na bewering sy destydse vrou gehelp om as ‘n permanente inwoner van Suid-Afrika verklaar te word.
Volgens Mulaudzi is Masange in ‘n stadium gevra om die drie verskillende identiteitsdokumente aan die departement van binnelandse sake te verduidelik. Hy het toe ‘n verklaring afgelê waarin hy aangevoer het hy is in Letlhabile, Brits gebore.
Masange is op waarskuwing vrygelaat en sal na verwagting weer Vrydag in die hof verskyn.
Intussen is DS Nkosi aangestel as waarnemende hoof van menslike nedersettings in Mpumalanga en MC Morolo as waarnemende hoof van openbare werke, paaie en vervoer.


×