100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

VF+ verkla Mbombela oor riool in Hazyview

Written by on September 8, 2020

Die VF+ het Mbombela-munisipaliteit by die menseregtekommissie gaan verkla oor rou riool wat na bewering in die Sabierivier inloop.
Dit sypel glo van die Hazyview-rioolplaas in by Langspruit, ‘n sytak van die rivier waaruit die dorp sy drinkwater kry.
Volgens die party se Ken Robertson, het die dam by die rioolsuiweringsaanleg die vorige week oorstroom.

“Ek dink die ergste is dat die water vir die dorp se gebruik sowat 400 meter verder af uit die Sabierivier onttrek word, so mense se drinkwater kan besmet wees,” aldus Robertson.
Twee video’s is die afgelope weke op die toneel geneem. Op die een kan ‘n pomp duidelik gehoor word terwyl die riool na ‘n naburige eiendom stroom.
Dit loop verder oor ‘n bekende toeristebestemming voor dit glo in die Langspruit beland.
‘n Boer wie se boorgat so besoedel is, moes glo watertoetse laat doen nadat sy kinders onverklaarbaar siek geword het. Die toetsuitslae sou bevestig dat die boorgatwater, wat eens skoon was, nie meer geskik is vir menslike gebruik nie.
Die VF+ voer aan hulle het op 29 Augustus klagte by senior bestuur in die Mbombela-munisipaliteit ingedien oor die groot hoeveelhede riool wat in die rivier gestort word.
“Die VF+ beskou die aangeleentheid as dringend en sal alles in die stryd werp om die skuldiges aan die pen te laat ry – selfs al beteken dit strafregtelike klagte teen senior amptenare wie se verantwoordelikheid dit is om toe te sien dat die Nasionale Waterwet toegepas word.
“Ons hoop die munisipaliteit kan dit regstel,” sê Robertson.

Joseph Ngala, die woordvoerder van Mbombela-munisipaliteit, is genader vir kommentaar oor die aangeleentheid.


×