100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Min tyd oor om kaartjies te bekom vir Leeus-toer na Mbombela

Written by on September 9, 2020

Suid-Afrikaners het slegs ‘n week oor om te registreer om kaartjies vir die Britse en Ierse Leeus se toer na Suid-Afrika volgende jaar, te bekom.
Die geleentheid om te registreer om kaartjies te kan bekom, loop volgende Woensdag op ‘n einde.
Mbombela-stadion speel gasheer vir die toergroep se wedstryd teen die SA A-span op Woensdag, 14 Julie, 2021. Kaartjiepryse vir hierdie wedstryd wissel tussen R100 en R350.
Mbombela se stadionbestuurder, Roelf Kotze, sê hulle verwag egter nie dat die wedstryd sal uitverkoop nie, en sal tevrede wees met sowat 60% bywoning.

“Dit is ‘n wedstryd in die middel van die week en nie ‘n toets nie, maar kaartjiepryse is baie billik,” sê Kotze. “Ons sal goed doen as ons 25 000 mense hier kan kry.
“Dit is ‘n spesiale atmosfeer. Dit is die eerste keer in 12 jaar dat hulle hierheen toer. Ek is seker ons gaan baie goeie bywoning van hul ondersteuners sien.”
Kotze voorspel dat verskeie besoekers uit die noorde die wedstryd sal koppel aan ‘n besoek aan die Kruger-wildtuin.
Volgens Saru is belangstelling in die drie toetse, wat by FNB-, Kaapstad- en Emirates Airline Park-stadions gespeel word, baie hoog.
Jurie Roux, uitvoerende hoof, het sy versekering gegee dat meer kaartjies beskikbaar is vir plaaslike ondersteuners, as die van oorsee.
Boonop kan uitgehongerde rugbyliefhebbers nog uitsien na die Curriebeker in Oktober.
Volgens Kotze sal die land teen dan, hopelik, op vlak 1 van inperking wees sodat toeskouers die wedstryde by kan woon – al word kapasiteit beperk.
“Soos dit nou staan is dit nog sonder toeskouers, maar ons is vol hoop dat dit teen Oktober beter sal wees,” sê hy.

Bekom só kaartjies vir die Britse en Ierse Leeus se toer in 2021

Registreer om kaartjies te bekom by lionstour2021.co.za voor Woensdag, 16 September om 23:59.
Die loting vind plaas deur ‘n gerekenariseerde proses
Alle geregistreerde verbruikers sal voor die einde van die maand per e-pos in kennis gestel word of hulle suksesvol was of nie
Betaling vind outomaties plaas op die kredietkaart waarmee hulle aansoek gedoen het, sou die aansoek suksesvol wees.


×