100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Medelye stroom in vir Jackson Mthembu

Written by on January 21, 2021

Medelye het van alle oorde ingestroom vir Jackson Mthembu, minister in die presidensie en ‘n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee sedert 2007, nadat pres. Cyril Ramaphosa vanmiddag bevestig het dat Mthembu weens Covid-19-verwante komplikasies gesterf het.
“Ons dink aan sy familie in hierdie tyd. Hy was ‘n voorbeeldige leier, ‘n aktivis en lewenslange voorstaander van vryheid en demokrasie. Hy was baie geliefd en gerespekteerd en sy dood is ‘n verlies vir ons land,” het Ramaphosa op Twitter geskryf.
Politieke leiers van regoor die spektrum het hul hartseer oor sy afsterwe uitgespreek, sowel as joernaliste, partylede, en die breër publiek.

Mthembu het op 11 Januarie op Twitter aangekondig dat hy positief getoets het vir die virus. Dit was sy laaste inskrywing.
Hy het met die uitbreek van die pandemie ‘n menigte inligtingsessies oor die virus gelei.
Hy was oorspronklik van Mpumalanga – hy is in 1958 in eMalahleni (Witbank) gebore – en het in Mbombela gewoon.
Premier Refilwe Mtshweni-Tsipane sê die provinsie het ‘n ware seun verloor. Sy het hom as ‘n onbaatsugtige, etiese en beginselvaste leier beskryf wat deur sy handelinge ‘n voorbeeld gestel het.

“Hy was aan die voorpunt van die stryd om die misdaad teen die mensdom, apartheid, tot ‘n einde te help bring,” sê Mtshweni-Tsipane.
“Sy afsterwe laat ons met ‘n dieper verbintenis om ons mense onverpoosd te dien. Ons sal almal probeer om sy nalatenskap na te doen en te eer.”
Persoonlik het sy saam met Mthembu gewerk: eers as Numsa-verteenwoordigers by Highveld Steel, en daarna in die Mpumalanga wetgewer.
Mthembu het ook as LUR vir openbare werke in die provinsie gesien onder beide Mathews Phosa en Thabang Makwetla.
Tussen 1990 en 1994 was hy die party se woordvoerder in Mpumalanga en hy het aan die Codesa-onderhandelinge deelgeneem.
Tussen 1995 en 1997 was hy die woordvoerder van die ANC (onder pres. Nelson Mandela) en weer tussen 2009 en 2014.
Hy was die party se hoofsweep in die parlement tussen 2016 en 2019, en is toe as minister in die presidensie aangestel deur Ramaphosa.
Hy word oorleef deur sy vrou, Thembi Mthembu, en hul kinders. 


×