100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Optimisme dat Eloise se impak beperk kan wees

Written by on January 21, 2021

Daar heers optimisme dat Eloise se impak op die Laeveld beperk kan wees, maar dit is te vroeg om met sekerheid te kan sê.
Mpumalanga se departement van samewerkende regering hou tropiese storm Eloise fyn dop.
Sy sal na verwagting vanaf vroeg Sondagoggend baie swaar reën in die Laeveld veroorsaak.
Swaar reën word ook vir die suide van Mosambiek, noorde van KwaZulu-Natal en Limpopo voorspel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gewaarsku dat vloede in hierdie areas moontlik is.
Volgens die woordvoerder van die departement van samewerkende regering, George Mthethwa, behoort dit teen Saterdag eers duidelik te wees presies hoe die storm die area sal raak.

Volgens Mthethwa word Ehlanzeni-distrik gewoonlik die meeste deur storms van Mosambiek geraak.
Tog verwag provinsiale rampbestuur dat Eloise, volgens haar huidige roete, meer oor die noordelike deel van die provinsie gaan beweeg. Dit sluit in Bosbokrand-, JS Moroka- en Thembisile Hani-munisipaliteite.
Eloise behoort vandag na ‘n tropiese sikloon opgegradeer te word wanneer dit deur die Mosambiekse kanaal beweeg, maar teen Sondag, wanneer sy in Suid-Afrika aanland, ‘n tropiese depressie te wees.
Sekere areas sal na verwagting 100 millimeter rëen kry; dit is moontlik dat tot 200 millimeter binne 24 uur kan val. Sterk winde word ook verwag.
Dit is egter bloot te vroeg om met sekerheid te kan sê, omdat hierdie tipe storms so onvoorspelbaar is.
Daarom sal alle rolspelers, van die polisie en weermag tot Orru en brandweer-dienste op alle vlakke van Saterdag tot Woensdag op ‘n hoë gereedheidsvlak geplaas word.
SAWD-weervoorspeller, Mbavhi Maliage, sê hulle verwag dat die reën teen Dinsdag sal begin afneem.
Eloise sal ook nie so verwoestend soos sikloon Idai van twee jaar gelede wees nie, omdat haar windsterkte baie minder is.

Mthethwa voeg by dat dit te vroeg is om te kan sê of mense vooraf ontruim sal moet word, maar dat hulle sowel as munisipaliteite gereed is met voorraad en voertuie en dat ander departemente, soos maatskaplike ontwikkeling, ook regstaan met komberse en kospakkies, sou dit verlang word.

Intussen is dit moontlik om voor te berei vir ‘n storm.
Moenie na die areas wat swaar geraak word, reis as jy dit kan verhelp nie.
Vermy paaie waarvan jy nie die oppervlak kan sien nie.
Maak die stormwater-dreineering in jou erf skoon, sodat water kan deurvloei om skade te verhoed.
Moenie dat jou vee van Sondag af vêr in die veld wei nie, en moenie veewagters blootstel nie.
Mense wat onder die vloedlyn woon is reeds gewaarsku om na hoër gebiede te skuif.
Kontak provinsiale rampbestuur by 080-020-2507.


×