100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Man tydens Plaston-aanval vermoor

Written by on October 19, 2020

‘n Pa en prokureur in Mbombela, Gerrit Stander, is Maandagoggend in Kiaat-hospitaal dood, nadat hy by die huis in die Plaston-omgewing naby Witrivier geskiet is.
Die aanval het vroegoggend gebeur.
Volgens Joe Pelser van AfriForum Witrivier het hy net na 02:00 die oproep ontvang.
‘n Onbekende aantal mense het na vermoede probeer inbreek, en Stander het hulle moontlik betrap.
Die polisie het bevestig dat hulle ook tans oor baie beperkte inligting beskik.
Kol. Donald Mdluli, ‘n woordvoerder van die provinsiale polisie, het bevestig dat ‘n huisbraak en moord op die plaas plaasgevind het.
Hy sê egter die besonderhede is tans vaag. Stander se vrou was te getraumatiseer om ‘n verklaring af te lê.
“Ons het tans geen verdagtes nie. Ons weet ook nie hoeveel aanvallers daar was nie,” sê hy.
Stander is glo meer as een keer geskiet. Daarna het die verdagtes gevlug.
Hy het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

‘n Buurman sê die area beleef die afgelope paar maande ‘n vlaag inbrake. Daar sou Maandagmiddag ‘n vergadering daaroor gehou word.
Medelye het dadelik op Facebook aan Gerrit se ouers, Martiens en Magda, en familie begin instroom.

Proteste beplan
Verskeie organisasies beplan reeds geruime tyd die naweek proteste.
Eerskomende Sondag is die herdenking van Swart Maandag. Aksies word landwyd, asook in Hazyview en Witrivier, beplan.
Saterdag is Move ONE Million in Mbombela by die regeringsgeboue. Dit is egter nie teen plaasmoorde nie, maar teen alle onregverdigheid en ook teen politici wat die land probeer verdeel.
Derek Holmes, nuutverkose uitvoerende hoof van Move ONE Million, sê alle Suid-Afrikaners kan nie meer op die regering staatmaak nie.
“Ons is op ons eie. Ons moes saam ‘n pad vorentoe vind, verenig in ons diversiteit.”
Verder word daar verneem dat die VF+ ook ‘n protes in Mbombela beplan vir volgende Maandag, 26 Oktober.
Meer besonderhede sal nader aan die tyd gekommunikeer word.


×