100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

DA vra vir steun vir landelike veiligheidsplan

Written by on October 20, 2020

Die DA het ‘n beroep gedoen op ander politieke partye in Mpumalanga om hul landelike veiligheidsplan te steun.
Dit volg op Gerrit Stander se moord op ‘n plaas in die Plaston-omgewing naby Witrivier Maandag. Hy is verskeie kere deur vermeende rowers in sy huis geskiet. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Kol. Donald Mdluli, ‘n woordvoerder van die provinsiale polisie, het bevestig dat die besonderhede van die aanval steeds vaag is.
Die area beleef glo die afgelope paar maande ‘n vlaag inbrake. Plaston se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het gisteraand daaroor vergader. Hulle is na wat verneem word gefrustreerd met die polisie.
Volgens DA-LPW, Bosman Grobler, die party se woordvoerder vir landelike aangeleenthede in Mpumalanga, is die plan al ‘n geruime tyd gelede op nasionale vlak deur die party ontwikkel.

Dit behels kortliks dat spesialiseenhede in die polisie geskep word met opleiding en toerusting om op plaasaanvalle te fokus en so tendense en risiko’s te identifiseer – om alle landelike gemeenskappe te help.
“Dit is vir ons vanselfsprekend dat plaasmoorde ‘n groter probleem is as wat die polisie en die kommissaris en die minister wil erken. Ons het dit geïdentifiseer as ‘n probleem en dryf die kwessie baie hard.
“Ons voel, selfs al het die SAPD hul eie landelike veiligheidsplan, werk dit nie want hulle implementeer dit nie.”
Hy voeg by dat plaasaanvalle meer gestruktureerd is as ander geweldsmisdade.
“Dit is nie ‘n gewone misdaad nie. Dit word lank vooraf beplan. En baie spesifiek beplan. Dit is nie ‘n lukrake ding wat lukraak opgelos kan word nie,” sê Grobler.


×