100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Macadamia-boer wreed vermoor buite Mbombela

Written by on September 30, 2022

Die Laeveld is in skok gelaat deur die grusame moord gisteraand op ‘n macadamia-boer in sy boord op sy plaas tussen Sterkspruit en Alkmaar.
Volgens ‘n bron het Etienne du Toit (53) oudergewoonte om ongeveer 20:00 met sy motorfiets na die boorde gery om die waterkrane toe te draai.
Toe hy om ongeveer 21:00 nog nie teruggekeer het nie, het sy seun hom gaan soek.
Toe hy sy pa se flits in die pad sien lê het hy teruggedraai om eers vuurwapens in die huis te kry.
Hy het daarna in die boord op sy pa se verminkte liggaam afgekom.
Die bron sê hulle vermoed hy is met klippe geslaan en gemartel.
Sy motorfiets was op sy staander, en sy liggaam so 100 meter verder – nader aan die huis, asof hy in die rigting van die huis probeer vlug het.
“Sy selfoon was langs sy liggaam, en sy kluissleutels was steeds in sy sak,” sê die bron.
Polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, sê hul ondersoek toon voorlopig dat Du Toit kopbeserings opgedoen het. ’n Ysterstaaf is ook langs sy liggaam gevind.
“Die motief vir die moord is in hierdie stadium onbekend,” sê hy.

Etienne se gewese vrou, Chrisna, het op Facebook geskryf die pa van haar twee pragtige seuns is nou by hul geliefde seun Isak, sy ouers en twee boeties.
Isak du Toit is in 2017 op 24-jarige ouderdom weens hartversaking oorlede.
“Jy het nie die wrede dood verdien wat jy gesterf het…” skryf sy aan Etienne.
Enigiemand met inligting is gevra om speurder ao. Tshepo Mashego te kontak by 076-631-7310.

Foto: Facebook


×