100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Lang vertragings by Lebombo-grens duur voort

Written by on January 6, 2021

Uiters besige toestande by die Lebombo- en Ressano Garcia-grensposte by Komatipoort veroorsaak steeds lang vertragings.
Volgens berigte moes sommige reisigers sedert die naweek dae lank in lang rye wag om die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek oor te steek.
TRACN4 het reisigers vanoggend weer gewaarsku om dit te oorweeg om eerder die Mananga-grenspos met Eswatini te gebruik.
Die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, het verlede week aangekondig dat 160 addisionele amptenare van 2 tot 14 Januarie by die ses besigste grensposte ontplooi sal word.
Die volumes reisigers sal na verwagting in dié tyd bogemiddeld wees soos mense na Suid-Afrika terugkeer.
Dit is Lebombo, Beitbrug (Zimbabwe), Oshoek (Eswatini), Maseru en Ficksburg (Lesotho) en Kopfontein (Botswana).
Vereistes dat almal geldige Covid-19-toetse wys, vererger die oponthoud wat gewoonlik hierdie tyd van die jaar ervaar word.
Die bestuurder van die Lebombo-grenspos, Obed Maditsi, het die vertragings voor die deur gelê van mense wat sonder geldige negatiewe polimeerkettingreaksie (PCR)-toetse by die grens aankom.
Diegene daarsonder moet antigeentoetse wat vinnige uitslae lewer by die grenspos ondergaan om Suid-Afrika binne te kan kom . Slegs vragmotorbestuurders word van dié vereistes vrygestel.
Maditsi sê die toetse wat hulle uitvoer is nie ‘n probleem nie.

“Die probleem is dat mense sonder hul geldige toetsuitslae net daar aankom. Burgers van Mosambiek en Malawi is die grootste probleem en daar is ‘n lang ry.”
Volgens Maditsi is daar ‘n aparte ry vir Suid-Afrikaanse burgers, en is hierdie ry aansienlik korter.
Hy sê sowat 10 mense het Maandag by die grens positiewe uitslae gehad en die dag voor dit sowat sewe.
Suid-Afrikaners wat positief toets, word per ambulans na Nutting House naby Mbombela vervoer en in kwarantyn geplaas. Alle ander mense word toegang geweier, aldus Maditsi.


×