100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Barberton-vroue deur heldedaad gered toe gasbottel vlamvat

Written by on January 6, 2021

Twee vroue is Dinsdag in Barberton van ‘n gewisse ramp gered, toe ‘n gassillinder in hul huis vlamgevat het.
Avril van Dyk vertel sy wou vir haar en haar ma ontbytpap maak terwyl hulle ‘n kragonderbreking ervaar het.
Sy het ‘n nuwe 3 kg gasbottel gebruik, maar toe sy dit aansteek, slaan die hele sillinder aan die brand.
“Ek vermoed daar was êrens ‘n lekkasie. Al wat ek weet is daar was verskriklike vlamme. Die bottel het die vlamme so in die lug in gegooi.
“Ek weet nie hoe om ‘n gasbrand te hanteer nie, toe gooi ek water op. Ek het later enkeldiep in die water gestaan. Ek het besef ek verloor die stryd, en ek en my ma is in die moeilikheid.”

Sy het Hi-Tech Sekuriteit ontbied en Sunday Ntimba, wat naby was, was binne minute daar. Hy het gevra vir ‘n kombers, wat sy gegee het.
“Dit het nie eens die vlamme gesmoor nie, dit het dwarsdeur die kombers gesmelt, maar hy het daardie bottel gegryp,” vertel sy.
“Ons het ‘n baie lang gang, so 13 meter, toe brand dit nog en die vlamme skiet nog so bo uit terwyl hy dit buitentoe vat.”
Volgens Van Dyk het hy dit ‘n paar keer opgetel: Ntimba sê hy het dit basies uit die huis gerol tot in die tuin.
Hy het nie tyd gehad om die kombers nat te maak vir sy veiligheid nie: hy wou dit net uit die huis kry voor dit ontplof.
Dít was sy enigste oorweging: om die kliënt en hul huis veilig te hou, sê hy.

Buite kon hy niks vind om die vlamme mee te blus nie. Hy het om hulp geroep op die radio en sy kollega, Eugene Swanepoel, het die brandweer ontbied.
Ntimba het met sy heldhaftige optrede ligte brandwonde aan sy hande opgedoen.
“Hy was baie, baie dapper,” sluit Van Dyk af. “Hy het nie vir ‘n sekonde aan sy eie lewe gedink nie.”


×