100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-gevalle styg skerp in Mpumalanga

Written by on January 7, 2021

Die provinsiale gesondheidsdepartement sê korona-gevalle in Mpumalanga neem kommerwekkend baie toe.
‘n Totaal van 1 223 nuwe gevalle is gister, 6 Januarie, in die provinsie aangeteken. Dit is net ‘n raps minder as die 1 419 nuwe gevalle wat in een dag tydens die piek van die pandemie in 2020, op 5 Augustus, bevestig is.
Tans is daar 5 441 aktiewe gevalle, en 40 751 in totaal. Dit is 4 044 meer as ‘n week gelede.
Tussen 10 Desember en 17 Desember het 733 mense in Mpumalanga positief getoets vir die virus. ‘n Week later, op Oukersdag, het dit met 1 354 vermeerder en met 2 623 die volgende week, tot 31 Desember.
Twintig mense is ook weens die virus die afgelope sewe dae dood: van hulle was 8 in die 24 uur voor die statistieke vir 6 Januarie bekendgemaak is.

Tydens die piek van die pandemie in Augustus was die meeste aktiewe gevalle in die provinsie op een slag 6 598.
Landwyd is daar vir die eerste keer meer as 800 gevalle in een dag aangemeld met die meeste nuwe gevalle ooit: 21 832.
Die woordvoerder van die provinsiale departement, Dumisani Malamule, sê dit is onmoontlik om te voorspel hoe erg dit gaan raak.
Hy skryf die toename deels toe aan die feesseisoen, toe mense minder versigting opgetree het deur saamtrekke te hou, te drink en nie gesigmaskers te dra of fisiese afstande te hou nie.
“Daarom is dit nie ‘n verrassing dat die syfers vermeerder nie,” sê hy.
Malamule kon nie die getal hospitalisasies in Mpumalanga verskaf nie, maar het gesê hulle ontslaan minder siek pasiënte om te verseker beddens is beskikbaar vir diegene wat dit benodig.

“Ons ontslaan mense wat die siekte by die huis kan bestuur sodat ons mense wat baie siek is in ons hospitale kan behandel. Baie mense is siek, ons kan dit nie ontken nie,” sê hy.
“Hopelik in Januarie fokus mense op ander dinge, en sien ons teen Februarie weer ‘n afname, maar ons kan nie seker wees nie.”
Hy voeg by hul beleid is dieselfde as tydens die vorige vlak 3 van inperking verlede jaar: Alle besoeke aan hospitale is gestaak en slegs noodoperasies word uitgevoer.
“Ons maak ook seker ons het genoeg beskermende kleredrag, en verskerp ons bewusmaking om seker te maak mense weet hierdie ding is werklik.”
Die LUR vir gesondheid, Sasekani Manzini, besoek die hele week reeds klinieke, taxi-staanplekke en winkelsentrums daarvoor.
Die departement het mense herinner om vir enige mediese behandeling eers hul plaaslike klinieke te besoek, wat hulle in ernstige gevalle na hospitale sal verwys.
Plaaslike private hospitale sê hulle is onder geweldige druk weens die tweede golf Covid-19-infeksies, maar pasiënte word geensins weggewys nie.
Nelspruit Mediclinic se Liza Pillay en Kiaat-private hospitaal se Eda Verster stem saam dat die aantal pasiënte in Mpumalanga dramaties toeneem, wat veral hul mediese personeel onder beduidende druk plaas.
Om hul kapasiteit te verhoog is alle nienoodsaaklike operasies by Mediclinic gekanselleer of uitgestel. Die hospitaal se ongevalle-afdeling is egter ten volle operasioneel.
Verster het Dinsdag aangedui dat Kiaat nog nie enige operasies of chemo-behandeling weens die virus moes staak nie, maar vir die volgende week of twee elektiewe gevalle sal beperk om te verseker hulle ons het genoeg beddens.



×