100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vier dae in die ry by Lebombo: Suid-Afrikaner deel nagmerrie

Written by on January 8, 2021

Chaotiese toestande het die week by die Lebombo- en Ressano Garcia-grensposte geheers.
Weens vlak 3 van inperking moes sommige reisigers, soos Magan Price (21) en haar gesin, dae wag om Suid-Afrika van Mosambiek af binne te kom.
Sy sê hulle het verwag dat dit vanjaar langer sou neem om van hul Mosambiekse vakansie terug te keer huis toe, maar sou nie in hul wildste nagmerries kon voorsien dat hulle vir vier dae by die grenspos vasgekeer sou wees nie.
“Dit was chaos,” herhaal sy ‘n paar keer.

Die Price-gesin van Pretoria was by Inhambane met vakansie. Hulle het Sondag douvoordag daar vertrek om ongeveer 11:00 by die grens aan te kom.
Sy skat hulle het die dag sowat 5 km in die ry beweeg. Die volgende dag het hulle 350 meter gevorder.
“Ons sou omgedraai het om ‘n ander grenspos te gebruik as ons kon, maar ons was heeltemal vasgekeer. Daar was sewe rye voertuie oor die twee bane. Die Suid-Afrikaanse karre kon nie eens by die grenspos uitkom nie.”
Sy sê die probleem is aan die Suid-Afrikaanse kant, waar mense negatiewe Covid-19-toetse moet lewer wat in die vorige 72 uur gedoen is.

Die bestuurder van die Lebombo-grenspos, Obed Maditsi, het vroeër die week die vertragings voor die deur gelê van mense wat sonder geldige negatiewe toetse by die grens aankom.
“Ons kon die polimeerkettingreaksie (PCR)-toetse in Maputo laat doen, maar selfs al het ons, sou dit al verval het teen die tyd dat ons by die grens aangekom het,” sê Price.
Almal moet daarom antigeentoetse wat vinnige uitslae lewer by die grens ondergaan om Suid-Afrika binne te kan kom. “Dit neem ure om ‘n toets van drie minute te doen,” sê sy.
Die ander probleem is dat die grenspos nie 24 uur oop is nie, wat gewoonlik hierdie tyd van die jaar die geval is.
“Hulle maak 06:00 oop en sluit weer 20:00. In die oggende kom die gesondheidswerkers eers 09:00 daar aan om te begin toetse doen. Hulle is tog noodsaaklike werkers wat buite die aandklokreël se tyde kan reis?”
Ironies genoeg veroorsaak die toetse die oponthoud, maar is daar geen maatreëls in plek om die virus se verspreiding te bekamp aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens nie, sê Price.

Gelukkig het hulle vir die Sondag padkos ingepak. Verder was water langs die pad te koop. Hulle moes, soos al die ander mense, in hul kar slaap.
Tussen die twee grensposte was ablusiegeriewe min of sonder water, maar definitief sonder seep.
Van fisiese distansiëring was daar geen sprake nie, en dikwels ook nie van gesigmaskers nie.
Die Price-gesin kon uiteindelik Woensdag om 18:00 Mosambiek verlaat. Weens die lang ry het hulle Donderdag om 03:30 in die ry vir die toetse ingeval en was eers teen 13:30 daarmee klaar.
“Ek het Donderdagoggend drie polisiebeamptes gesien, en hulle het niks gedoen om die chaos te probeer beheer nie.

“Jy staan vir ure in die ry om getoets te word. Hulle sit nie eens stoele uit vir die oumense nie.”
Daar was swanger vroue, mense met babas in die kar in 40 grade en doeke wat opraak, mense sonder geld om water mee te koop, vertel sy. Voetgangers kry ook voorkeur.
“As jy by die grens Covid opdoen, wys die toets dit nie so vinnig nie, so al daardie mense kom die land binne en hoeveel van hulle is positief en weet dit nie?”


×