100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Kwotas geld vanaf môre in die Krugerwildtuin

Written by on December 14, 2023

SANParke sal vanaf môre tot 16 Januarie kwotas op besoekers aan die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) toepas.

Die woordvoerder, Ike Phaahla, sê dit is om te verseker almal het ‘n aangename en veilige besoek.

Besoekers word versoek om vooraf hul ingangstyd te bespreek.

Kwotas op dagbesoekers word ook gedurende langnaweke en skoolvakansies toegepas wanneer die NKW meestal drakrag bereik en mense weg moet wys.

Die tydgleuwe verhoed ook dat die paaie en fasiliteite te besig raak.

Dit is 05:30 tot 07:30, 07:30 tot 09:30 of vanaf 09:30.

“Vooraf bespreekte dagbesoekers sal voorkeur kry bo nie-bespreekte dagbesoekers by die hek, maar moet verseker dat hulle binne hul bespreekte tydgleuwe opdaag,” sê hy.

“Aankoms buite die bespreekte tydgleuf sal as nie-bespreek beskou word en besoekers sal dus nie voorkeur geniet nie en kan weggewys word.”

Hy sê besprekings kan deur SANParke se besprekingskantore gewysig word indien nodig.

Phaahla voeg by dat sigbaarheid van verkeersbeamptes sal verhoog en moedig besoekers aan om die reëls te eerbiedig.

“Die park het planne gemaak vir verhoogde sigbaarheid van beide verkeersbeamptes en besoekersbestuurspersoneel om spoed, na-uurse reis en algemene gedrag op die paaie te monitor.

“Besoekers word ook daaraan herinner om nie drank saam te bring nie aangesien die alkoholverbod op openbare areas in die park ‘n permanente reël is wat te alle tye afgedwing word.

“Die bestuur doen ‘n beroep op besoekers om saam te werk met amptenare wat aan diens sal wees en om onbetaamlike gedrag by die hekbeamptes aan te meld of die noodoproepsentrumnommer op die toegangspermitte te skakel,” sluit Phaahla af.

Sien ook: Twee vermeende transitorowers in 2024 verhoor


×