100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Klubrugby hoog op nuwe Pumas-hoof se prioriteitslys

Written by on December 2, 2020

Mpumalanga Rugby se nuut aangestelde uitvoerende hoof wil hê klubrugby moet so gou moontlik hervat.
Marius van Rensburg sal vanaf 1 Januarie dié pos beklee wat in Augustus deur Pieter Burger vakant gelaat is.
Van Rensburg is al sedert 2008 by Mpumalanga Rugby betrokke. Hy sê die aanstelling is ‘n groot eer en verantwoordelikheid.
“Ek weet na 13 jaar wat verwag word, en ek is reg vir die uitdaging. Ek is baie opgewonde oor die geleentheid.”
Een van die eerste dinge op sy prioriteitslys is om met SA Rugby oor die amateur kompetisie se strukture te praat om ‘n pad vorentoe te vind om die provinsiale kompetisies weer aan die gang te kry. “Dit is waar ons die jong talent vind.”

‘n Ander prioriteit is om die Pumas-spelers gesond te hou vir die res van die Curriebeker.
Van Rensburg is ook baie opgewonde oor die nuwe Mpumalanga Rugbyinstituut. “Dit is ‘n pyplyn na ons professionale span wat bestuur word deur baie kundige mense. Ek sal my gewig ingooi waar nodig.”
Volgens die Pumas se direkteur van rugby, Jimmy Stonehouse, is Van Rensburg se aanstelling te wyte aan sy ondervinding, lojaliteit en visie.
“Hy het homself oor die jare bewys as ‘n lojale persoon met kennis en vaardighede, wat kalm bly en ferm kan wees wanneer die geleentheid dit vereis.”
Van Rensburg is geskoei in die SWD-omgewing se skole en klubs waar hy gespeel en later afgerig het, voor hy as SWD Rugby se spanbestuurder aangestel is.
Stonehouse het hom later na die Pumas gelok. “Ons kan in alle eerlikheid sê dat die Pumas gebou is rondom die stabiele rots wat Marius is.”
AG Visser, president van die Mpumalanga Rugbyunie, het die ander kandidate bedank, maar sê Van Rensburg is gekies as die beste persoon vir dié uitdagende werk.
Vir Apie Human, voorsitter van Mpumalanga Rugby, staan sy jarelange verhouding met borge uit. “Dit het ‘n groot impak om hulle te kry en te hou. Met hom nou aan die stuur, glo ons hy sal voortbou op daardie fondasie.”
Van Rensburg verwys na die moeilike jaar wat verby is. “Ons het ‘n rol om te speel om ‘n verskil te maak en ‘n positiewe toekoms vir almal te bou.
“Ek glo ek het die vermoë om saam met die bestuur, werknemers en spelers die Pumas in ‘n regverdige manier te lei om ons basis regoor Mpumalanga te groei en spelers te ontwikkel om te verseker dat ons tuisgekweekte diepte het.”


×