100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

JOC op hoë gereedheid vir beplande landwye staking

Written by on August 23, 2022

Die gesamentlike operasionele bevel (JOC) van Laeveld sekuriteitsmaatskappye en ander rolspelers is op ‘n hoë vlak van gereedheid vir die beplande landwye staking môre.

Die vakbonde Cosatu en Saftu het dit uitgeroep uit protest teen stygende lewenskoste. Dit word deur verskeie ander vakbonde en burgerlike organisasies ondersteun.

John Meintjes van ACS Sekuriteit en Nelspruit Concerned Citizens sê dit is onmoontlik om te voorspel presies hoe die Laeveld daardeur geraak sal word.

Sekuriteitsmaatskappye sal vanaf middernag op strategiese plekke ontplooi word om beweging te monitor. Die JOC sal uurliks alle geverifieërde inligting met die publiek deel.

Hier is wat ons weet.

Frank Swanepoel, besturende direkteur van Hi-Tech Sekuriteit, sê dit is onmoontlik om te voorspel presies hoe die Laeveld daardeur geraak gaan word, maar dat die JOC die situasie monitor.

Hulle verwag dat hoofroetes versper kan word. Inligting wat daarop dui dat toegangroetes na en van Nelspruit Woensdag vanaf 03:00 versper kan word is nie bevestig nie.

Omdat dit so onvoorspelbaar is, word mense aangeraai om dit te vermy om te reis, tensy hulle moet.
Amptelik beplan Cosatu sy Mpumalanga-optog vir die dag van aksie in Witbank vanaf 09:00.

Swanepoel sê enige gebeurlikheid sal aan die publiek gekommunikeer word sodra dit bevestig is.

Die organiseerders van die Mpumalanga Show, wat môre by Mbombela-stadion afskop, sê hulle beplan om soos normaal voort te gaan.

Intussen duur die protesaksie op die R536 tussen Hazyview en die Paul Krugerhek na die Krugerwildtuin voort. Die pad word versper by die Belfast informele nedersetting. Vermy liefs die area.

Bly ingeskakel op 100.5FM om deurgaans op hoogte te bly van enige verwikkelinge.

Foto: Protesaksie het in Julie groot ontwrigting in die Laeveld veroorsaak.


×