100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Innibos maak in Junie sy volwaardige terugkeer

Written by on January 23, 2023

Innibos Kunstefees is vanjaar eindelik terug met ’n volwaardige kunstefees – nadat Covid-19-regulasies dit die afgelope drie jaar gekortwiek het.
Die fees vind vanaf 29 Junie tot 2 Julie by die feesterrein by Hoërskool Bergvlam plaas.
Vanjaar is die 20ste Innibos Kunstefees en sy tema is “vars” wat die organiseerders se opgewondenheid weerspieël om opnuut vermaak en die kunste na die Laeveld te bring.

Media- en bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs, sê hulle sal alles wat Innibos tradisioneel so ‘n sukses maak hou, maar dinge op ‘n nuwe manier aanbied.
So het Frikkie die Feesvark met Vlerke onlangs ‘n jonger boetie gekry wat uit ‘n eier gebore is, en net soos Innibos is hy propvol nuwe idees.

Een so ‘n verwikkeling is die Safariteater. Sy vertel vir Juané meer. Luister weer hier.

Op die meer tradisionele toneelfront is Sandra Prinsloo te sien in Kamphoer, Margitte Meyer-Rödenbeck en Marion Holm in Laerskool Noord, en Desiree Gardner in Magda Louw, ’n verhoogverwerking van televisiereeks wat tans op televisie te sien is.
Rudi van Rensburg se onnutsige Hans (Charlie Bouguegon) sal weer vir ligte oomblikke sorg in Hans gee Herklaas horings.
Ook splinternuut op die feesterrein is die Wingerd in die kunspark waar feesgangers wyn van verskillende landgoedere kan proe met gemaklike kuiertafels, kunsstalletjies, kos-demonstrasies en rustige musiek om dit ‘n ware oase vir asemskep te maak.
Musiek is steeds een van die grootste trekpleisters, en die baie gewilde hoofverhoogkonserte is reeds gefinaliseer. Die room van Afrikaanse musiekkunstenaars sal die toon aangee, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Spoegwolf, Bernice West, Droomsindroom, Sunset Sweatshop en Elvis Blue.
Die Harvard Krokodiloes (die befaamde universiteit se oudste a cappella sanggroep) is ook op die program.
Andy Lubbe, feesdirekteur, sê dié konserte bied uitstekende waarde vir geld. “Die feesterreintoegang sluit in ’n vol dag se vermaak op die terrein, plus ’n drie uur lange konsert van topgehalte in die aand. Ons weet almal moet die rieme dun sny, maar net so moet die gemoedere gelig word. Innibos wil dít bied.”

Doen aansoek
Aansoeke vir optredes op die kuierverhoë kan tot 31 Januarie nog ingedien word (uitsluitlik deur opkomende kunstenaars).
Aansoeke vir stalletjies in die Bosmôl word ook steeds aanvaar. Eiesoortige en handgemaakte produkte geniet voorkeur.
Besoek innibos.co.za.


×