100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Innibos kaartjies vanaf vandag te koop

Written by on March 27, 2023

Ná ‘n feesdroogte is dit vanjaar weer voluit Innibos Kunstefees, en feesterreinkaartjies kan reeds vanaf vandag by Computicket gekoop word.
Innibos vind vanjaar van Donderdag, 29 Junie, tot Saterdag, 3 Julie, plaas met die Loof Hom Innibos-konsert oudergewoonte die Sondag.
Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, sê hulle is baie opgewonde om die fees weer te kan aanbied en hoop feesgangers sien saam met hulle uit na ’n gesellige, vars fees.

“Ons spring ook ‘n bietjie vroeër weg as gewoonlik weg met die kaartjieverkope, want in hierdie ekonomiese knypende tyd moet ons almal planne maak om die rande te rek,” sê sy.
Ingesluit by die toegangsfooi na die feesterrein by Hoërskool Bergvlam, is vermaak van vroeg tot laat in onder meer die bosmôl en by die onderskeie kuierverhoë.
Sien ook: Kuns inni Liedjiebos nuut by Innibos 2023
Elke aand word afgesluit met ’n konsert op die hoofverhoog met die room van Afrikaanse musieksterre, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Elvis Blue, Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf en Brendan Peyper.
’n Splinternuwe kuierarea, die Wingerd Kuiertuin, sal in die kunspark ingewy word waar verskeie wynlandgoedere se wyne geproe kan word.
Aan die toneelfront kan feesgangers die doyenne van Afrikaanse teater, Sandra Prinsloo, te siene kry in die drama Kamphoer. Ligter oomblikke op die verhoog sluit in die komedies Laerskool Noord (met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee), Reünie uit die pen van Dana Snyman (met Frank Opperman), en Hans gee Herklaas horings (met Charlie Bouguenon).
==========
Hektoegang na die feesterrein is per persoon per dag (kinders 12 jaar en jonger kry gratis toegang): Donderdag, 29 Junie, R200; Vrydag, 30 Junie, R225; Saterdag, 1 Julie, R250. Goue sirkel-kaartjies is bykomend tot die hektoegang en kos R200 (Vrydagaand) en R250 (Saterdagaand). Donderdagaand is daar geen goue sirkel nie. ’n Weekkaartjie kos R600.
Pensioenarisse (60 jaar en ouer) betaal R100 per dag per persoon en dié kaartjies kan slegs tydens die fees by die hooftoegangshek gekoop word. Parkeerkaartjies op die feesterrein is beskikbaar teen R100 per motor per dag.
Vir die volledige program besoek innibos.co.za.


×