100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Innibos hierdie naweek in jou sitkamer vir die hele gesin

Written by on June 23, 2020

Innibos Digitaal skop Vrydag af en jy is verseker van die voorste gestoeltes in jou eie sitkamer, maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie.
Covid-19 het baie appelkarre omgegooi en die fees, wat Woensdag sou afskop, vind nou eers in Desember plaas.
Intussen word die fees digitaal aangebied, met 20 produksies wat musiek, drama, komedie en kinderteater insluit.
Dit begin op Vrydag, 26 Junie, om 18:00 stroom.
Elke vertoning waarvoor jy ‘n kaartjie koop bly vir 72 uur beskikbaar nadat jy die eerste keer die skakel geaktiveer het.
Volgens Innibos se Sandra Jacobs is dit uitstekende waarde vir geld want die hele gesin kan dit geniet – en jy het die beste sitplek in die huis.

“Hierdie naweek sou die regte Innibos naweek wees, so maak dit ‘n Innibos Digitaal naweek,” sê sy.

Individuele kaartjies vir elke vertoning is by Computicket te koop. Dit kos tussen R50 en R100 elk.
’n Verskeidenheid musiekproduksies met iets vir elke smaak is op die program. Sommige vertonings kom uit Innibos se argiefskatkis en ander is spesiaal vir die digitale fees opgeneem in samewerking met Coleske Kunstenaars en MGG Produksies.
Innibos se Standard Bank-hoofverhoogkonserte is jaarliks ’n hoogtepunt tydens die kunstefees, en by Innibos Digitaal is daar drie van dié topkonserte te sien.
Die 2019 kykNet-Verjaardagkonsert, wat die Fiësta-toekenning gekry het vir die beste opelugkonsert verlede jaar, sluit kunstenaars in soos Jo Black, Elvis Blue, Joseph Clark en Demi Lee Moore.
Voorts is daar Innibos is Groot, ’n opname van die baie gewilde 2014-hoofverhoogkonsert.
Dr Victor and the Rasta Rebels, Jak de Priester en Michelle Botha het splinternuwe vertonings spesiaal vir Innibos Digitaal laat opneem. Dr Victor se Victor Khojane laat musiekliefhebbers se voete al langer as veertig jeuk, terwyl Jak geliefde en bekende treffers vars opdis.
Op haar beurt laat waai Botha met musiek uit die 1970’s en 1980’s in haar stuk Storm in a F-Cup/Bra-vades wat kykers op ʼn nostalgiese en skreeusnaakse reis van ʼn vrou se soeke na liefde geneem.


Stef Bos is te sien in die musiekteaterproduksie Bos innie Bos. Dié vertoning is in 2017 by Innibos voor ʼn gehoor opgeneem en het ook daardie jaar met die Fiësta as Beste Podium Musiekproduksie weggestap.
Die tydloosheid van Koos du Plessis se musiek en liriek kan beleef word met Jannie du Toit, Susan Mouton en Chanie Jonker in Doep is nie dood nie, terwyl Jannie Moolman en Kevin Leo in Crooners ou bekendes soos Dean Martin, Tom Jones, Nat King Cole, Bing Crosby en Frank Sinatra tot in jou voorhuis bring.

Die meeste van die vertonings sal tot einde Desember by Computicket beskikbaar bly.
Innibos Digitaal is ook besonders omdat dit die fees toeganklik maak vir mense wat te ver woon om die fees in die vlees by te woon.

“Dit is opwindend en as dit goed werk sal ons dit weer doen,” voeg Jacobs by.
Die reëlings vir die regte fees, wat op 16 Desember afskop, vorder ook goed.

“Digitaal is wonderlik en dit is al wat ons op die oomblik het, maar dit kan nooit die ware impak van ‘n werklike, fisiese fees vervang nie.
“Om in die teater te sit en dit eerstehands te beleef of om op die feesterrein te wees en die atmosfeer te kan ervaar is iets besonders, so ons sien baie uit na die werklike fees ook,” sê Jacobs.
Kaartjieverkope vir die feesterrein open in Augustus. Die program sal later die jaar aangekondig word.
Intussen bied Innibos Digitaal iets vir almal regoor die wêreld.
Die volledige program is by innibos.co.za te sien. Kaartjies is beskikbaar by computicket.com.


×