100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mannejag na sekerheidswag vermoor word by skool

Written by on June 23, 2020

Geen arrestasies is tot dusver in die moord op ‘n skool se sekuriteitswag gemaak nie.
Die 57-jarige Amos Mgwenya was ‘n wag by Mthayiza Primary in KaBokweni. Hy is verlede week op sy pos deur gewapende rowers geskiet.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, is hy Vrydag deur drie vroue ontdek wat ondersoek ingestel het nadat hy nie die hek vir hulle oopgemaak het nie.
Hulle het hom bloeiend in sy voertuig aangetref. Die polisie en ambulansdienste is ontbied. Mgwenya is op die toneel dood verklaar.
Volgens die polisie het die verdagtes by die skool se rekenaarlokaal ingebreek en verskeie items, soos skootrekenaars, gesteel.
Hul ondersoek wys dit was ‘n georkestreerde rooftog waartydens spesifieke elektroniese ware geteiken is. ‘n Saak van moord en roof word ondersoek.

Hlathi sê egter die polisie kan tans nie die verskillende voorvalle met mekaar vebind nie, en hanteer elkeen individueel.
Hy voeg by dat hulle nie sal rus tot hulle die skuldiges opspoor nie. Verskeie plaaslike skole loop al sedert die begin van die grendelstaat onder inbrake deur. Die LUR vir onderwys in Mpumalanga, Bonakele Majuba, het die skool Saterdag besoek.
Hy het die voorval as koudbloedige moord bestempel en sy medelye met Mgwenya se naasbestaandes betuig.
“Dit is met ‘n swaar hart dat ons sien hoe ons skole oorval word met misdadigers mat vernietig, openbare eiendom steel en die lewens van onskuldige mense neem, wanneer ons fokus daarop moet wees om die onsigbare vyand, Covid-19, te beveg.”

Mpumalanga se polisiekommissaris, luit. gen. Mondli Zuma, sê Mgwenya is vermoor terwyl hy eiendom beskerm het wat bedoel was om die jeug in hul onderrig te help.
Die polisie het ‘n span saamgestel om die verdagtes so spoedig moontlik vas te trek.
Enigiemand met inligting word aangemoedig om kapt. Shaka Nkosi te kontak by 071-200-1669 of 086-001-0111.

 


×