100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-19-gevalle in Mpumalanga styg skerp

Written by on June 22, 2020

Die bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus het vandeesweek skerp gestyg in die provinsie.
Mpumalanga het van die minste gevalle en slegs een sterfte tot dusver.
Tog het gevalle in die laaste week amper verdubbel, van 271 ‘n week gelede, tot 505 tans.
Die provinsiale gesondheidsdepartement het egter bevestig dat hulle die brandpunte met ‘n valkoog dophou.
Dit is Witbank (eMalahleni) wat tans 141 gevalle het – meer as die 108 wat slegs twee dae tevore daar aangeteken is. Dit is ook amper ‘n verdubbelling van 75 gevalle vier dae gelede.
Govan Mbeki-munisipaliteit het 74, Mbombela 66, Steve Tshwete 43 en Nkomazi 34.
Dumisani Malamule, die woordvoerder vir Mpumalanga se gesondheidsdepartement, sê egter hulle beskou die styging nie as vreesaanjaend nie, veral as jy die getal pasiënte wat reeds van die virus herstel het, inreken.
In Mpumalanga het 156 pasiënte reeds herstel.
Die voorspelling is ook dat gevalle in Suid-Afrika in September ‘n hoogtepunt sal bereik. Malamule sê hulle is voorbereid daarop.

Malamule skryf die styging in bevestigde gevalle deels toe aan die winter sowel as die departement se siftingstoetse.
Meer as vier miljoen van Mpumalanga se nagenoeg 4,9 miljoen mense het reeds siftingstoetse ondergaan.
Daar word meer gevalle verwag soos die inperkingsregulasies verslap word.
“Wanneer ons almal klaar getoets het, gaan ons aanhou, solank as wat Covid-19 bestaan,” sê hy.

Hy voeg by dat die LUR baie inspeksies doen en dat die meeste sakeondernemings riglyne volg.

In eMalahleni is myne veral ‘n brandpunt en meer spanne is in die area ontplooi om toetse uit te voer.
Die land het tans 87 715 bevestidge gevalle, met 1 831 sterftes.

 


×