100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Impak van die inperking is kommerwekkend

Written by on May 11, 2020

Uit verskillende sektore in die samelewing kom die oproep dat die staat van inperking opgehef moet word. In ʼn webinaar wat deur die Daily Maverick publikasie aangebied is, het prof. Shabir Madhi Sondagaand gesê dat ʼn verlenging van die staat van inperking nie die oordrag van Covid-19 in gemeenskappe sal verhinder nie en dat dit boonop die bykomende negatiewe gevolge wat daaruit spruit, sal vererger. Prof. Madhi is ’n kenner van entstowwe by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en dien tans op die ministeriële advieskomitee vir gesondheid. Hy het gesê die Suid-Afrikaanse regering sal moet besef dat daar niks meer is wat hulle nou kan doen nie, die verantwoordelikheid berus nou by die mense van Suid-Afrika.

Die inperkingstydperk het tyd gekoop vir die gesondheidstelsel in Suid-Afrika om voor te berei, maar die tekort aan toetsing, die verkeerde tipe toetse en die stadige vrystelling van resultate het die regering se kanse om die verspreiding van die virus stadiger te maak, belemmer. Madhi het gewaarsku die huidige benadering veroorsaak eintlik meer skade want baie mense sukkel om basiese mediese toetse te ondergaan vir die opsporing van tuberkulose, die siekte wat in Suid-Afrika die meeste sterftes veroorsaak. Daar is ook al hoe meer voorvalle van wanvoeding wat aangemeld word en boonop word kinders se toekoms ernstig in die wiele gery met die volgehoue sluiting van die skole, het hy bygevoeg. Hy het ander kenners se waarskuwing beaam dat die inperking, indien dit veel langer aanhou, uiteindelik vir baie meer sterfgevalle gaan sorg as wat Covid-19 gaan doen. Hier het hy veral verwys na tuberkulose.

Tans is daar ʼn 50% afname in die toetsing vir TB en boonop word die uitslae ook vertraag. Madhi het gesê ʼn staat van inperking is nie ʼn wonderkuur nie behalwe as die mense self verantwoordelikheid neem. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit vir Jan Alleman is om te hou by die voorskrifte: dra ʼn masker, handhaaf sosiale distansiëring en was jou hande gereeld. Dit sal nie mense ten volle beskerm nie, maar beslis die aantal infeksies verminder. Hy is ook van mening dat die skole so gou as moontlik in fases moet heropen. Hy het verwys na navorsing wat in Nederland en Australië gedoen is wat toon dat kinders selde volwassenes aansteek. Hulle moet eerder terugkeer skool toe en daar geleer word presies hoe om infestering met die virus te voorkom. Sy voorspelling is dat nagenoeg 60% van Suid-Afrikaners uiteindelik geïnfekteer sal word maar hy het bygevoeg dat dit nie so sleg is soos wat dit klink nie. 70% van die mense wat geïnfekteer is sal asimptomaties bly, ongeveer 25 uit 1000 sal gehospitaliseer moet word en ongelukkig sal drie of vier van daardie 25 sterf. 90% van die sterfgevalle sal mense ouer as 65 wees met ander onderliggende siektes soos hoe bloeddruk, diabetes, hart- en niersiektes. Madhi is veral krities oor die toetsing in Suid-Afrika.

Dit neem tussen vyf en 14 dae vir toetsresultate om terug te kom. Hy sê indien jy nie binne 12 tot 24 uur die uitslag van ʼn toets kan kry nie, is dit waardeloos. Om die verspreiding te voorkom, moet die mense wat in kontak was met die persoon wat positief getoets het opgespoor word. Dit is onmoontlik indien daar 14 dae verloop voordat die uitslag beskikbaar is. Hy het ook die regering se besluit om gesondheidswerkers uit te stuur na woonplekke om daar siftingstoetse te doen gekritiseer. “Die enigste rede waarom geen ander land in die wêreld dit doen nie, is omdat hierdie ʼn respiratoriese virus is. Mense kan gesond lyk maar die volgende dag simptome van die virus toon. Hierdie strategie is dus in beginsel foutief. Ons het beter toegang tot toetsfasiliteite in gemeenskappe nodig. Dit is indien ons ernstig is om die siekte te identifiseer binne gemeenskappe.

Die geleentheid om ʼn verskil te maak is besig om verby te glip, indien dit nie reeds te laat is nie,” het hy gesê. Op Sondagaand het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, die nuutste Covid-19 getalle bekendgemaak. Die aantal persone in Suid-Afrika wat met die koronavirus geïnfekteer is, het die 10 000 merk verbygesteek en het op Sondag op 10 015 te staan gekom. Dit is 595 meer as op Saterdag. Die aantal sterftes in Suid-Afrika was op Sondagaand 194. Die getalle in Mpumalanga het intussen ook aangegroei tot 61.


×