100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Miljoene liters bier binnekort in die drein af

Written by on May 11, 2020

Die regering se drankverbod in die inperkingstydperk is besig om tot enorme verliese te lei. Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Edward Kieswetter, het in die week aan die parlement gesê dat die land reeds sedert die begin van die inperking R1,7 miljard se belastinginkomste verloor het. Dit is weens die verbod op die verkope van drank en tabakprodukte. Met ’n verlies aan belasting van R664 miljoen op bier, R400 miljoen op sterk drank en R300 miljoen op wyn, kom die totaal op nagenoeg R1,4 miljard te staan.

Intussen het Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) aangekondig dat hulle binnekort sal moet begin met die vernietiging van sowat 6, 5 miljoen liter, min of meer 20 miljoen bottels bier. Dit is weens die regering se verbod op die vervoer van alkohol tydens die landswye inperking. Hierdie bier is klaar gebrou en wag in die tenks om gebottel te word. Zoleka Lisa, die adjunkpresident vir korporatiewe sake van SAB het op Vrydag 7 Mei gesê die bier moet ongeveer 500m geskuif word na ʼn bergingsfasiliteit, maar dit word nie toegelaat nie. SAB het reeds drie dae voor die afsonderingstydperk begin het, opdrag gekry om bedrywighede te staak.

Die bedrywighede kon egter nie onmiddellik tot stilstand gebring word nie, aangesien dit ʼn hele proses is en daar was reeds miljoene liter bier in die brouproses. Nou wag die klaar gebroude bier om verskuif te word, of dit moet vernietig word. SAB sal ten minste R150 miljoen verloor indien die bier vernietig word. Wanneer die brouproses weer aan die gang mag kom, sal dit vier maande neem om weer tot volle potensiaal bier te lewer. Suid-Afrika is een van die min lande in die wêreld waar daar so ʼn algehele verbod op die verkope van alkohol tydens die staat van inperking ingestel is. Die Suid-Afrikaanse Drankeienaarsvereniging (Salba) het hulle frustrasie met die verbod op alkoholverkope uitgespreek en gesê dat ander groot ekonomieë in Afrika, soos Nigerië en Kenia nooit ʼn totale verbod op alkohol gehad het nie.

Intussen het die Duitsers rede gehad om breed te glimlag. Reuters berig dat die Willinger brouery in Hesse op Donderdag sowat 2600 liters bier weggegee het, eerder as om dit te vernietig. Mense het geduldig buite die bouery in ʼn ry staan en wag, maskers op die gesig en met die nodige sosiale distansiëring. Alhoewel Duitsland nooit ʼn verbod op die koop en verkoop van drank gehad het nie, het die sluiting van kroeë en restaurante ʼn aansienlike daling in bierverkope te weeg gebring. Daarom was die brouery verplig om van die oortollige bier ontslae te raak om plek te maak vir die nuutgebroude bier. Intussen sit Suid-Afrikaners bloot en droom van ʼn yskoue bier. Dit sal waarskynlik eers moontlik wees bier wettiglik aan te koop wanneer ons tot Vlak 3 beweeg.

 


×