100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Skok na sluipmoord op hoofman wat glo renosters stroop

Written by on March 28, 2023

Die LUR vir Samewerkende Regering in Mpumalanga, Mandla Msibi, het sy skok uitgespreek oor die sluipmoord Sondagaand op die hoofman van die Mnisi Tribal Council.

LUISTER DIE BERIG

Clyde Mnisi is naby die Kruger Mpumalanga Internasionale-lughawe deur vyf swaar gewapende mans vermoor toe hy en sy motorbestuurder ‘n pap band gekry het. Hy sou volgende maand verhoor word as ‘n vermeende ringkop in ‘n renosterstropingsindikaat.

Die Provinsiale Huis van Tradisionele Leiers het Mnisi beskryf as ‘n onbaatsugtige leier.

Die provinsiale voorsitter, Kgoshi Lameck Mokoena, sê hy was toegewyd  aan sy gemeenskap en laat ‘n groot leemte.

==========

Hoofman doodgeskiet wat van renosterstroping aangekla word – 27 Maart, 14:11

Die hoofman wat volgende maand verhoor sou word as ‘n vermeende ringkop in ‘n renosterstropingsindikaat is gisteraand buite Witrivier vermoor.

Clyde Mnisi (37) was die hoofman van die Mnisi Tribal Council.

Volgens die polisie is hy om ongeveer 23:10 op die lughawepad naby Kruger Mpumalanga Internasionale (KMI)-lughawe doodgeskiet.

Hy en sy bestuurder het in ‘n Toyota Avanza gery toe hulle ‘n pap band kry. Terwyl hulle vir hulp gewag het, het vyf swaar gewapende mans met balaklavas in ‘n BMW X5 arriveer.

Hulle het glo ‘n paar woorde met Mnisi gepraat voor hulle op hom losgebrand het.

Die ondersoekende joernalis, Julian Rademeyer, skryf in “Landscape of Fear”, ‘n verslag vir ENACT, dat Mnisi in Oktober as hoofman bevestig is.

Hy sou vanaf volgende maand verhoor word na sy arrestasie in 2018 saam met Joseph “Big Joe” Nyalunga en Petros Sydney Mabuza (ook bekend as Mshengu) i.v.m. ‘n renosterhoring-smokkelnetwerk.

Mshengu is in Junie 2021 in Hazyview doodgeskiet.

Nog vier beskuldigdes is almal huidige of voormalige polisiebeamptes: Die voormalige bevelvoerder van die Skukuza-polisiestasie, kapt. Phineas Lubisi; ‘n konstabel in Skukuza, Aretha Mhlanga; ‘n voormalige konstabel by Calcutta, Claude Lubisi; en ‘n konstabel verbonde aan die eenheid vir veediefstal in Acornhoek, Rachel Qwebana.

Die aanklagte teen hulle sluit in diefstal, sameswering om ‘n misdaad te pleeg, die onwettige verkoop van renosterhoring, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê Mnisi se bestuurder is in sy been gewond. Niemand is nog aangekeer nie.


×