100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Hoe gemaak as jy ‘n leeu raakloop in Marloth Park?

Written by on December 15, 2021

Die Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap (MTPA) soek steeds na ‘n trop leeus wat meer as ‘n week gelede uit die Krugerwildtuin tot in Marloth Park ontsnap het.
Gerrie Camacho sê hulle beplan om hulle te pyl en te skuif, weens die gevaar wat hulle vir mense inhou.
Hul taak word egter bemoeilik omdat die leeus nie heeltyd saam beweeg nie. Daar is ten minste vier: ‘n volwasse wyfie met drie subvolwasse welpies van ongeveer twee jaar oud, asook ten minste een volwasse mannetjie.
Volgens Camacho verhoog dit ook mense se kanse om hulle raak te loop.

“Die kanse is groter dat iemand in hulle kan vasloop op ‘n manier as hulle in ten minste twee groepe is. As hulle in een groep was, was hulle meer sigbaar en opspoorbaar en kon ons mense waarsku watter areas om te vermy.”
Camacho beskryf die mannetjie as rustig en ‘n goeie wegkruiper. “Dit is ‘n redelike groot area, ons soek na ‘n naald in ‘n hooimied.”
Hulle is al sowat agt keer totaal gewaar.
“Die enigste manier is om hulle te pyl as hulle op hul eie karkas is, en dit is moeilik uit ‘n helikopter uit.”
Leeus wat die grens uit die wildtuin na Marloth Park oorsteek is ‘n normale verskynsel wat gereeld gebeur, veral weens druk van ander leeus. Daar word geglo dat hierdie vier vasgekeer geraak het aan die verkeerde kant van die rivier deur die water wat afgekom het na die groot reën.
“Leeus is goeie swemmers, maar die rivier vloei te sterk op die oomblik, en daar is kos.
“Mense moet die erns van die saak besef. Dit is leeus, dit is ‘n gevaar, daar is baie kinders, mense stap en draf en ry fiets. Dit is ‘n potensieel gevaarlike situasie.”
Sy raad is: Moenie rondloop nie (veral nie in die oggend, laatmiddag of aand nie), bly naby of in die huis, hou die ligte aan, en hou kinders stil en binneshuis.
Wanneer ‘n volwassene op ‘n leeu afkom, is dit noodsaaklik om stil te staan. Dieselfde geld egter nie vir kinders nie, selfs al tel jy hulle op.
“Leeus weet hulle is kwesbare prooi en sal vir hulle gaan.”
Dit is ook noodsaaklik dat huiseienaars hul gaste oor die leeus inlig. “Verwittig hulle en stuur die kennisgewings vir hulle aan.”
As jy die leeus gewaar, kontak die veldwagters by 082-802-5894, die GPF se Nadine Edgecombe by 082-672-4545, of die MTPA se Camacho by 082-353-9097, Ernst Röhm by 083-626-6309, April Lukhele by 082-807-1057 of Jan Koekemoer by 063-053-7601.


×