100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Graskop neem aksie teen Thaba Chweu

Written by on October 28, 2020

Graskop se belastingbetalersvereniging (GRA) het ‘n dispuut verklaar met Thaba Chweu-munisipaliteit (TCLM) en weerhou nou hul tariewe en belasting.
Volgens Lance Gibson het die meeste inwoners in Augustus reeds opgehou om die plaaslike owerheid te betaal.
Buiten dat min dienste gelewer word, is die groep se hoofrede dat Thaba Chweu vir jare nagelaat het hom hul tariewe te promulgeer. Hulle voer aan dat dit daarom onwettig is om dit te verhaal.
Volgens Gibson vereis die Munisipale Eiendomsbelasting-wet (nommer 6 van 2004) dat dit na ‘n raadsbesluit in die staatskoerant gepubliseer word.
Hulle kon nog geen bewyse vind dat dít tussen Julie 2005 en Junie 2016 gebeur het nie. Dit was glo ook nie die geval vir die nuwe tariewe wat in Julie hierdie jaar in werking getree het nie.
“Dit het nie plaasgevind nie, en maak al die tariewe en eiendomsbelasting onwettig,” sê hy.

Dienste in die dorp gaan tans nog normaal voort. Weens die dispuut mag Thaba Chweu dit ook nie stop nie.
Die GRA het intussen by die nasionale belastingbetalers-unie aangesluit en regsadvies ingewin.
“Dit is baie belangrik dat ons alles volgens die letter doen, veral om die munisipaliteit te verhoed om dienslewering stop te sit,” sê Gibson.
Inwoners van Graskop kla al vir jare oor dienslewering. Hulle het uiteindelik genoeg gehad.
“Wettig is almal wat vir daardie 11 jaar dit betaal het, geregtig op ‘n terugbetaling. Die munisipaliteit kan dit nie bekostig nie. Dit sal miljoene wees.”
Belastingbetalers is egter aangemoedig om uit te werk wat hulle verskuldig is vir die bogenoemde tydperke, sodat dit as skuld op TCLM se boeke kan staan, wat weer sal help om die provinsie te oortuig om hulle onder volle administrasie te plaas.
“Saam kan ons ‘n verskil maak,” sluit Gibson af.


×