100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Elf in hof oor R124 miljoen word borgtog toegestaan

Written by on October 28, 2020

Elf mense, onder hulle die voormalige minister van staatsveiligheid, adv. Bongani Bongo, het Woensdag in die Nelspruit-landdroshof verskyn op klagte van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery.
Hulle word ook beskuldig van die oortreding van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA).
Bongo was ten tyde van die vermeende misdade die hoof van die provinsiale departement van menslike nedersettings se regsafdeling. Hy het saam met sy broer, Sipho Bongo, verskyn, asook plaaslike sakemanne Robert Burwise, Patrick Chirwa en Harrington Dhlamini.
David Dube, voormalige hoof van die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga, is ook aangekla.
Saam met hulle in die beskuldigdebank is Blessing Singwane, Vusi Magagula, Bongani Sibiya, Elmon Mdaka, en Sibongile Mdaka.
Verder word vier maatskappye aangekla: Little River Trading 156, Broad Market Trading 204, Bongiveli en Pfuka Afrika.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) spruit die klagte uit die koop en verkoop van drie plase vir die ontwikkeling van behuising deur die departement van menslike nedersettings.
Hoewel hul gekombineerde waarde sowat R70 miljoen is, word beraam dat die departement ‘n verlies van net minder as R124 miljoen gely het weens die misdrywe.

Die NVG verduidelik dat die departememt ‘n plaas, Naauwpoort in eMalahleni (Witbank), in 2010 namens eMalahleni-munisipaliteit sou koop vir R37,5 miljoen.
Volgens Sipho Ngwema, woordvoerder van die NGV, het van die aangeklaagdes met mekaar saamgewerk om die transaksie uit te buit deur wanvoorstellings aan die departement te maak oor die grond se eienaarskap en ware verkoopsprys.
Die regmatige eienaar het slegs R15 miljoen ontvang.
Die geld is in Singwane-prokureurs se trustrekening inbetaal. Hulle het op hul beurt R22,5 miljoen aan Little River Trading oorbetaal.
In ‘n afsonderlike transaksie, in 2011, het Bongiveli ‘n ooreenkoms aangegaan met Freemax Farms vir die koop van ‘n deel van Rietspruit-plaas in Ermelo vir R10,5 miljoen. Die munisipaliteit het die waarde egter as R1,6 miljoen beraam.
Little River het ‘n deposito van R1,5 miljoen neergesit. Bongiveli moes teen 31 May 2011 ‘n bankwaarborg lewer vir die betaling van die balans.
Van die aangeklaagdes, as lede van Pfuka Afrika, is kommissie van R4,5 miljoen betaal.
In Maart 2011 het die departement, Msukaligwa- munisipaliteit en Bongiveli ‘n verkoopsooreenkoms aangegaan.
Volgens die NVG was Bongiveli egter nie die eienaar van die plaas nie en die departement het die transaksie nie goedgekeur nie.
Dieselfde maand het die departement meer as R52 miljoen aan Singwane betaal, wat op hul beurt Freemax met ‘n waarborg van R15,6 miljoen voorsien het.
Die eiendom is toe aan Bongiveli oorgedra. Hulle het dit teen R32 miljoen aan die departement terugverkoop.
Van die aangeklaagdes sou vergoeding ontvang het vir hul betrokkenheid by die transaksies.
‘n Derde plaas van 70 ha in die Malalane-omgewing, met ‘n geskatte waarde van R44 miljoen, is glo ook deur Bongiveli aan Nkomazi-munisipaliteit verkoop teen R50 miljoen in 2011.
Al 11 individue is borgtog van R10 000 toegestaan. Hulle moet weer op 4 Maart in dieselfde hof verskyn.


×