100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Drie in hof na man sterf, nog arrestasies verwag

Written by on June 26, 2020

Drie mense is in verband met ‘n moordsaak digby Nelspruit, Mpumalanga, waar die gemeenskap vermoedelik reg in eie hande geneem het, in hegtenis geneem. Volgens brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in die provinsie, is ‘n 33-jarige man Dinsdag by die Mahushu Trust, Masoyi, dood. Hlathi sê die verdagtes het die slagoffer daarvan beskuldig dat hy van hulle gesteel het. Die 28-jarige vrou en twee 29-jarige mans sou Donderdag in die hof verskyn. Hulle het hom glo onder meer vasgebind en met warm water gebrand.

Die polisie het met hul aankoms by die toneel nooddienste ontbied. Die man was glo ernstig aangerand en is op die toneel dood verklaar.
Hlathi voeg by dat nog mense binnekort in verband met die voorval in hegtenis geneem kan word. Die polisie in Mpumalanga het gemeenskapsgeweld verdoem. Luit. gen. Mondli Zuma, die provinsiale polisiekommisaris, het die gemeenskap gevra om kriminele aktiwiteite by die polisie aan te meld, eerder as om die reg in hul eie hande neem. “Mense wat hulle aan gemeenskapsgeweld skuldig maak, moet weet dat hulle vervolg sal word,” sê hy. “Niemand is bo die wet verhewe nie. Ons moedig gemeenskappe aan, om eerder betrokke te raak by strukture soos gemeenskaps polisiëring forums en saam met tradisionele leiers te werk wat ‘n mandaat het om misdaad aan te spreek.”


×