100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Doen inkopies vir ‘n goeie doel

Written by on June 26, 2020

As jy op soek is na ‘n winskopie hierdie naweek, probeer gerus Nelspruit Hospice se eerste “pop-up” winkel.
Weens inperking is die meeste van hul fondsinsamelings projekte vir die jaar omvêr gegooi. Die twee grootstes, hul jaarlikse gholfdag en Innibos, is weens Covid-19 uitgestel.
Daarom hou hulle Saterdag verkoping.
Elmarie du Toit sê hulle is met skenkings oorval, en die publiek kan uitsien na regte winskopies.
Buiten Innibos wat nou eers in Desember plaasvind, en die nuwe datum van hul gholfdag wat nog nie vasgemaak is nie, het Nelspruit Hospice se gereelde maandelikse skenkings ook heelwat verminder omdat al hoe meer mense finansieël in die knyp is.
Hulle sien egter steeds na ‘n gemiddeld van 40 pasiënte per maand om, en benodig die fondse om hul bedrywighede voort te sit.
Dit sluit in wondsorg, brandstof om pasiënte te kan besoek en die operasionele onkostes van die kantoor.
Die winkel pop Saterdag om 10:00 by Nelspruit Hospice se kantoor by 84 Ferreirastraat op.

Wintersklere, skoene, gehekelde babakombersies, sagte speelgoed, huisware, boeke en skilderye, kombuisware en tuingereedskap sal alles teen ‘n goeie prys, en vir ‘n goeie doel, te kry wees.
Du Toit voeg by dat alle voorsorgmaatreëls teen Covid-19 in plek is en dat slegs ‘n beperkte hoeveelheid mense op ‘n slag binne toegelaat sal word. Mense sal ook nie sonder gesigmaskers toegelaat word nie.
Sy is dankbaar in hoe ‘n mate die publiek hulle reeds ondersteun het met die wye verskeidenheid items wat geskenk is.
So kon hulle van dit met ander niewinsgewende organisasies, soos Betty’s Haven en Katoen, wat veral huisware en komberse benodig, deel.
Du Toit voeg by dat skenkings van enigiets wat herverkoop kan word steeds welkom is.
Verder kan jy Saterdag uitsien na heerlike kerrie-en-rys, vetkoek en soetgebak asook die bekende Hospice heuning en gepreserveerde groenvye.
Vir meer inligting, kontak Du Toit by [email protected] of 013-744-0095.


×