100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Die nasionale inperking kry mense aan die lees

Written by on March 28, 2020

Alita Steenkamp

Dis nie net toiletpapier en handreinigers wat die laaste paar dae voor die aanbreek van die nasionale inperking van die rakke gevlieg het nie. In die voorbereiding vir die isolasie het baie mense gekies om hulle voorraad boeke aan te vul. Nicola Greeff, bestuurder van Bargain Books in i’langa Mall, sê sy was aangenaam verras deur die hoeveelheid boeke wat haar tak in die laaste week verkoop het.

“Ek wil amper sê ons was besiger as net voor Kersfees. In die terugvoer van die hoofkantoor was dit ook duidelik dat almal in ons groep rekordverkope gehad het. Selfs mense wat nie lees nie was skielik opsoek na iets om hulle mee besig te hou in die tydperk wat hulle tuis moet bly. Ons hele voorraad legkaarte was ook teen Donderdagoggend heeltemal uitverkoop” sê Greeff.

Volgens Greeff het mense sonder uitsondering ontspanningslektuur gesoek. Politieke boeke, sakeboeke en selfs donker rillers en gruverhale het op die rakke bly staan. Wat vir haar veral verblydend was, was om ʼn hele paar nuwe gesigte in die winkel op te merk.

“Wanneer iemand ingestap het en onseker was oor hoe ons spesiale aanbieding op sekere boeke werk, of nie weet hoekom ons nie plastieksakke gee waarin die boeke gesit kan word nie, weet ek sommer hulle is vir die eerste keer in ons winkel.

“Dit was ook verblydend om te sien hoeveel boeke mense vir hulle kinders gekoop het. Sommige ouers het gesê hulle gaan probeer om hulle kinders in hierdie tyd aan die lees te kry. Andere, wie se kinders lesers is, het sommer die hele stel, of soos ons sê box set, gekoop. Dis boeke soos Harry Potter, Diary of a Wimpy Kid en Dog Diaries. Ons hoop mense sal na die inperking, steeds meer en meer lees,” sê Greeff.

Ongelukkig is boekwinkels se deure ook gesluit vir die duur van die nasionale inperking.

28 Maart 2020


×