100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Roudiens vir Bergvlam-matrikulant eerskomende Dinsdag

Written by on December 5, 2020

Die roudiens vir Carel Robberts, ‘n graad 12-leerling aan Hoërskool Bergvlam, sal die komende week gehou word.
Dié matrikulant is die afgelope Dinsdagaand in ‘n motorongeluk oorlede.
Hy het onlangs, op 5 September, sy 18de verjaarsdag gevier en was besig met sy eindeksamen.
Die skool het in ‘n huldeblyk gesê dat baie lewens deur Carel aangeraak is, en dat hulle sy nagedagtenis sal koester.
Sy onderwyser, Anseri Boje, sê Carel was ‘n merkwaardige leerder. “In sy stil manier van doen het sy menswees boekdele gespreek,” sê sy.

Die skool se volledige huldeblyk lees so: “Wanneer dit tyd word om te groet, kan ons dit doen met die wete dat die Here in beheer is en dat sy tydsberekening volmaak is.
“Soms is dit moeiliker om totsiens te sê as ander kere. Om iemand vir wie jy lief is te verloor, is seker die seerste seer.
“Ons kan onsself egter troos met die wete dat, omdat ons een in Christus is, geen afskeid finaal is nie.
“Die hartseer is egter ‘n realiteit en slegs die Heilige Gees, die Trooster, kan ons in sulke tye krag gee en deurdra.
“Daar word dikwels gesê dat wanneer soldate oorlog toe gaan, is dit die wat agterbly wat die meeste verlang. Dieselfde kan gesê word met die afsterwe van Carel. Sy familie en vriende is in hartseer en rou gedompel.
“Ons Vlammie-familie sal sy nagedagtenis in ons harte en gedagtes koester. Ons weet dat baie se lewens deur jou aangeraak is.”
Die roudiens sal Dinsdag om 11:00 by die NG Kerk Westergloed in Mbombela plaasvind.



×