100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vlak vier bring effense verligting, veral vir die rokers

Written by on April 25, 2020

In ʼn televisieboodskap het pres. Cyril Ramaphosa op Donderdagaand aangekondig hoe die nasionale inperking geleidelik opgehef gaan word. Hy het verwys na vyf vlakke waarin vlak 5 die strengste beperkingsreëls het en op vlak 1 sal alle sektore in die ekonomie toegelaat word om ten volle te opereer. Vanaf Vrydag 1 Mei beweeg Suid-Afrika van vlak 5 na vlak 4.

Ten spyte van die feit dat daar ‘n effense verslapping in sekere regulasies is, word mense steeds aangemoedig om tuis te bly en net die huis te verlaat om noodsaaklike produkte te koop of noodsaaklike werk te gaan doen. Pres. Ramaphosa het veral vir bejaardes en mense met onderliggende gesondheidsprobleme gevra om in isolasie te bly. Waar moontlik moet werknemers steeds van die huis af werk. Die bedrywe wat oopgestel word moet aan streng gesondheidsmaatreëls voldoen.

Die volgende word vanaf 1 Mei toegelaat:
1. Oefening sal toegelaat word. Pres. Ramaphosa het gesê dat meer inligting hieroor in die volgende week beskikbaar gestel sal word.
2. Die koop en verkoop van sigarette.
3. Supermarkte en winkels mag ‘n groter verskeidenheid produkte verkoop. Die verbod op die verkoop van sekere produkte wat tans nie as noodsaaklike produkte gelys is nie word op 1 Mei gelig. Verdere inligting oor wat alles toelaatbaar sal wees, sal ook in die week deurgegee word. Daar is nog geen spesifieke aankondiging oor die verkoop van wyn in supermarkte nie.
4. Skole, universiteite en ander akademiese instellings sal ook geleidelik oopgemaak word. Meer besonderhede daaroor sal ook mettertyd deur die spesifieke ministers aangekondig word.
5. Beperkte internasionale reise. Al die land se grense sal steeds gesluit wees. Slegs Suid-Afrikaners wat elders vasgekeer was mag terugkeer na Suid-Afrika. Buitelandse burgers wat hier in Suid-Afrika is, sal ook gerepatrieer word.
6. Openbare Vervoer word onder streng higiëniese maatreëls oopgestel, enige tyd van die dag. Mense sal net met ʼn masker aan van hierdie vervoer gebruik maak en die getal passasiers word ook beperk.

Die volgende bly steeds onwettig:
1. Byeenkomste van meer as tien mense.
2. Konferensies, teaters, flieks, konserte, sportbyeenkomste, godsdiens- en kultuurbyeenkomste is alles steeds verbode.
3. Reis tussen verskillende provinsies. Die vervoer van goedere mag wel interprovinsiaal geskied. In uitsonderlike gebeurtenisse soos begrafnisse sal iemand met die nodige permit wel van een provinsie na ʼn ander kan reis.

Lees pres. Ramaphosa se volledige toespraak hier: https://ewn.co.za/2020/04/23/president-s-ramaphosa-s-speech-on-the-easing-of-sa-lockdown


×