100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laeveldse natuurbewaringspesialis verower internasionale toekenning

Written by on April 24, 2020

Les Carlisle, groepbewaringsbestuurder van die andBeyond-groep en projekbestuurder van Rhinos Without Borders (RWB) is op 9 November 2019 met die UKUVIKELA Wildlife Protector-toekenning vereer.

Die toekenningsgeleentheid het in New York plaasgevind. Les en sy vrou Lynette het saam na New York gereis vir die oorhandigingseremonie. Les, wat as deel van sy werk baie moet reis, is nou tydens die inperkingstyd by sy huis op ʼn kleinhoewe buitekant Witrivier vanwaar hy al die bewaringsake met Skype- en telefoniese-vergaderings bestuur. Die andBeyond-groep bestuur 29 lodges in sewe lande. Les vertel dat dit vir hom ʼn groot verrassing was toe ʼn brief van John Steward, die uitvoerende bestuurder van die Wildlife Tomorrow Fund, by hom opdaag. “Aanvanklik het ek nie die brief deeglik gelees nie en gedink dis ʼn nominasie waarvoor ek dan moet aansoek doen. Dis nie iets wat ek sommer sal doen nie. Toe ek later die dag die brief met aandag lees, het ek besef dat ek reeds die toekenning ontvang het, ek moes net instem om dit in New York te gaan haal.

Dit was ʼn wonderlike reis vir my en Lynette en ek is baie dankbaar oor die geleentheid wat ons gekry het voordat die koronavirus die hele wêreld tot stilstand gedwing het,” sê hy. Carlisle vertel dat sy liefde vir die natuur reeds as ʼn jong seun gebore is. Sy pa het vir Stewarts & Lloyds gewerk en dan het hulle saam met hom na die Krugerwildtuin gegaan waar hy die nodige toerusting verskaf het vir die oprigting van windpompe in die Wildtuin. Op die manier het hy plekke gesien wat gewone toeriste nooit sal sien nie. Hy het ook as skolier reeds by die praktyk van dr. Blackie Swart, ʼn veearts in Nelspruit gewerk. Carlisle se hele loopbaan is gewy aan natuurbewaring. Hy het onder meer sy eie maatskappy, Helicapture (Pty) Ltd gestig en vir 8 jaar lank aan hervestiging van verskillende wildsoorte gewerk.

Hy was ook betrokke by die stigting van die Conservation Corporation Africa wat nou as andBeyond bekend staan. Hy het ook die Phinda privaat wildtuin gevestig en ook die oprigting van al die lodges bestuur. As projekbestuurder van die Rhino Without Borders-projek het hy gehelp met die hervestiging van 87 swart- en witrenosters wat bedreig was op die plekke waar hulle aangehou is in Suid-Afrika. Hulle is toe per lugvrag na ʼn veilige area in Botswana geneem. Die Ukuvikela Wildlife Protector-toekenning is ʼn internasionale toekenning wat ʼn individu of organisasie vereer wat onverpoos werk om bedreigde en ernstig bedreigde wildsoorte en hul habitat in Afrika te beskerm.
Besoek: www.andBeyond.com


×