FAK herstel Trichard-Potgieter-Monument
Written by Mireille on June 30, 2025
Die gevandaliseerde Trichard-Potgieter-Monument op die R532, noord van Graskop tussen God’s Window en Bourke’s Luck, is deur die FAK tot sy eertydse glorie herstel en op Saterdag weer onthul.
Die erfenisbaken is in 1976 ter ere aan die twee Voortrekkerleiers, Andries Hendrik Potgieter en Karel Trichardt deur die Rapportryers opgerig. Albei leiers het deur dié gebied getrek om ’n roete na die kus te vind.
Potgieter het ’n gedeelte van sy trekgeselskap in die omgewing, waar die monument opgerig is, agtergelaat terwyl hy op soek was na ’n roete na die kus. Nadat hy vir ’n geruime tyd nie teruggekeer het nie, het sy trekgeselskap vermoed dat hy omgekom het en die naaste rivier die Treurrivier genoem. Hy het egter later veilig teruggekeer en toe het hulle die volgende rivier die Blyderivier genoem.
’n Jaar later het Karel Trichardt (seun van Louis Trichardt) dieselfde roete as Potgieter gevolg om goedere by Delagoabaai te begin verhandel.
Die monument is ook van historiese waarde deurdat die benoeming van die Treur- en Blyderiviere aan hierdie erfenisbaken verbind kan word.
100.5FM het vroëer met Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike provinsies, gesels.
Luister weer: