Renosterstropery neem toe in Krugerwildtuin
Written by Mireille on March 7, 2025
Die aantal renosters wat in Suid-Afrika gestroop is, het van 499 in 2023 tot 420 verlede jaar gedaal.
Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het gister die renosterstropingstatistieke bekendgemaak.
Van die totaal is 320 op staatseiendom doodgemaak en 100 in privaat parke, reservate of op plase.
Stroping in die Krugerwildtuin het egter toegeneem: 88 renosters is in 2024 gestroop. Dit is 10 meer as in 2023.
Daar was ook ‘n kommerwekkende, skerp styging in Desember met 21 renosters wat dié maand gestroop is.
Die tendens het tot in Januarie voortgeduur met 17 stropingsgevalle wat aangemeld is.
Elders het die getalle wel afgeneem, grootliks weens ‘n groot onthoorning-program in KwaZulu-Natal se Hluhluwe-wildreservaat.
Daar was in Oktober ‘n opbloei met 27 renosters wat daardie maand in dié provinsie gestroop is.
In totaal was daar wel ‘n daling van byna 70% in stropery gedurende die laaste agt maande van 2024.
George sê KwaZulu-Natal word die ergste geraak.
Luister: ENG DiononRhinoPoaching
Hy glo versterkte ooreenkomste en operasionele protokolle met sleutellande moet vanjaar die fokus wees vir die land se teenstropery pogings.
Hy sê wetstoepassers ontwrig ook die groter kring: Mense hoër word vasgetrek soos bewys deur die vonnisoplegging van Francis Kipampa.
Hy was een van die beskuldigdes wat vasgetrek is as deel van Operasie “Blood Orange”. Hy is in Januarie tot 18 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan agt jaar vir vyf jaar opgeskort is.
“Hierdie projek is ‘n uitstekende voorbeeld van die geïntegreerde en multi-dissiplinêre benadering tot die ondersoek van georganiseerde misdaad wat aan wild gekoppel is en om te verseker dat ons korrupsie, geldwassery en die finansiële misdade wat met hierdie aktiwiteite geassosieer word, teiken.”