100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vragmotors brand: Vyf verskyn in hof

Written by on July 18, 2023

Vyf verdagtes wat glo verantwoordelik is vir die onlangse brand van vragmotors, het gister in die Ermelo-landdroshof verskyn. Hofrekords het aan die lig gebring dat drie van die vyf mans van KwaZulu-Natal is.

Nelson Shongwe, Sibusiso Mthethwa, Fundile Mpondo, Mafika Sibande en Nkosingiphile Gumede staan tereg op aanklagte van onder meer poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, opsetlike saakbeskadiging en sameswering om opsetlike saakbeskadiging te pleeg.

Die aanvalle het in Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Limpopo en die Vrystaat plaasgevind.

Die polisie sê hulle glo hulle kan binnekort die hoofleier van dié groep vind en verdere inhegtenisnemings kan volg terwyl die ondersoek voortduur.

Drie is verlede week in hegtenis geneem, terwyl twee tydens intense operasies die naweek in Mpumalanga aangekeer is.

Die polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, sê hulle soek altesaam 12 mense.

Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, het die polisie geloof vir die vinnige arrestasies.

Drie-en-twintig vragmotors is die afgelope week in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal aan die brand gesteek.

Die woordvoerder van die departement, Moeti Mmusi, sê hulle doen alles in hul vermoë om te keer dat sulke aanvalle weer gebeur.

Intussen ontken “Operation Dudula” bewerings dat dit betrokke is by die brandstigting.

Dit volg op mediaberigte dat stemnotas wat die rondte doen die organisasie en die All-Truck Drivers Forum impliseer.

“Operation Dudula” sê dit sal nie infrastruktuur vernietig wat die ekonomie gehelp het om te floreer nie.

LUISTER VOLLEDIGE BERIG

Derde verdagte in hegtenis na vragmotors brand, 14 Julie 09:40

Die polisie het vanoggend bevestig dat ‘n derde verdagte gisteraand in Emalahleni in Mpumalanga in hegtenis geneem is vir die beweerde brand van vragmotors in die provinsie.

Die ander twee verdagtes is gister in Ermelo en Piet Retief in hegtenis geneem.

Die polisie het hul ondersoeke verskerp ná ‘n vlaag vragmotorbrande sedert Sondag in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal.

‘n Polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, sê al drie sal na verwagting Maandag in die hof verskyn op aanklag van opsetlike saakbeskadiging.

LUISTER VOLLEDIGE BERIG

Die LUR vir samewerkende regering in Mpumalanga, Vusi Shongwe, het die brand van vragmotors in die provinsie veroordeel.

Hy sê dit is onduidelik of die twee gevalle verwant is en voeg by dat dit neerkom op ekonomiese sabotasie.

Volgens Shongwe werk rolspelers onverpoosd om die verdagtes aan te keer.

Hy het ‘n beroep gedoen op die publiek om na vore te kom met enige inligting. 

Nog vier vragmotors brand in Mpumalanga, 12 Julie 10:02

Motoriste is gevra om die N2 tussen Ermelo en Piet Retief te vermy nadat nog vier vragmotors  vroeg vanoggend aan die brand gesteek is.

Volgens die polisie het die jongste voorval om ongeveer 05:30 vanoggend plaasgevind.

‘n Vroulike passasier wat in een vragmotor geslaap het, het brandwonde aan haar voete opgedoen.

Die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala:

Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het ‘n beroep gedoen op wetstoepassingsowerhede om die strengste strawwe wat deur die wet toelaatbaar is, uit te voer teen diegene wat verantwoordelik is vir die onlangse vlaag van vragmotorbrande.

Minstens 15 vragmotors is die afgelope paar dae in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal aan die brand gesteek.

Die voorvalle het ‘n soortgelyke modus operandi, met gewapende mans wat die vragmotors in die middel van die pad stop en dan die bestuurders wegjaag voordat hulle die vragmotors aan die brand steek.

Die woordvoerder van die departement, Collen Msibi, sê die padnetwerk is die ekonomie se lewenslyn.

Plundery vertraag opruiming op N4: 11 Julie 11:42

Die N4 Elandsvallei is kort na 01:00 vanoggend, ongeveer 24 uur nadat vyf vragmotors aan die brand gesteek is tussen die Waterval Boven-tonnel en Waterval Onder, weer oopgestel vir verkeer.

Die kommunikasiebestuurder van TRAC N4, Solange Soares, sê opruimingswerk was ‘n uitdaging weens die voertuie wat herhaaldelik weer aan die brand geslaan het, die groot hoeveelheid vrugte- en steenkoolafval op die pad, sowel as plundery van dié goedere.

Opruiming besig na vragmotors brand: 10 Julie 11:22

Opruimingswerk is onderweg op die N4 tussen die Waterval Boven-tonnel en Waterval Onder waar vyf vragmotors gisteraand aan die brand gesteek is.

Mpumalanga polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê die motief is tans onbekend.

Volgens hul inligting het mense die bestuurders forseer om te stop en hul vragmotors agter te laat.

Luister hier:

Motoriste is aangeraai om die pad te vermy en eerder Schoemanskloof te gebruik.

Sien ook: Liggaam van vermiste Piet Skead gevind


×