100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vrae bly oor R278 miljoen vir ontbinde eenheid in premier se kantoor

Written by on September 29, 2021

Die provinsiale regering het na ‘n maand versuim om te verduidelik hoekom R278 miljoen betaal is aan ‘n spesiale eenheid in die premier se kantoor wat nie meer bestaan nie.
Die Eenheid vir Vinnige Implementering (RIU) is in April 2013, tydens David Mabuza se termyn as premier, op die been gebring om infrastruktuurprojekte te monitor.
Volgens die VF Plus is dit in 2018 ontbind toe die ouditeur-generaal (OG) voorgestel het dat dit as ’n voertuig vir onreëlmatige besteding beskou kan word.
Volgens die 2019/20 ouditverslae het Mpumalanga se departement van gesondheid in die 2019/20 finansiële jaar betalings van R182 miljoen gemaak vir RIU-kontrakte. Die departement van maatskaplike ontwikkeling het sowat R96 miljoen betaal. Die ouditverslae dui aan dat die bedrae onreëlmatig bestee is.
Die VF Plus se provinsiale leier, Werner Weber, sê die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, moet verduidelik waarvoor die geld aangewend is. Hulle het haar tydens ʼn onlangse vraag-en-antwoord-sessie in die wetgewer daaroor gevra.
“Volgens die premier is die VF Plus se vrae in dié verband nie relevant nie, omdat die eenheid ontbind is,” sê Weber. “Sy het geweier om uit te brei oor waaraan die fondse bestee is.”
Radio Laeveld het die waarnemende woordvoerder vir die provinsiale regering, George Mthethwa, op 31 Augustus reeds vir ‘n verduideliking gevra. Hy het steeds nie gereageer op watter kontrakte die gelde voor betaal is, of aan watter entiteite dit betaal is, nie.
“Die VF Plus sal die saak nie net daar laat nie en sal aanhou om vrae te vra totdat die waarheid ontbloot word en die skuldiges aan die pen ry,” sluit Weber af.


×