100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

VF Plus: Mpumalanga regeringsgebou onder die 50-jaar-vloedlyn

Written by on February 22, 2023

Die Mpumalanga regeringsgebou is na bewering nie net onder die 50-jaar-vloedlyn gebou nie, maar inderdaad binne die rivieroewer.
Die VF Plus sê ‘n kenner het ook aan hulle bevestig dat daar ná etlike jare steeds gewag word op die omgewingsimpakstudies van die gebou.
Dit moes verlede week vir drie dae ontruim word nadat die Nelsrivier sy oewers oorstroom en hoog teen die gebou se onderste vlakke opgestoot het.
Volgens die provinsiale leier, Werner Weber, is groot dele van die elektriese heining om die gebou met die rivier meegesleur sowel as kantoortoerusting.
“Die rivier het plek-plek reg onder die eerste verdieping van die wetgewer tussen die steunpilare gestroom,” sê hy.
Volgens die party sou die gebou oorspronklik sowat R120 miljoen gekos het, maar die uiteindelike koste in 2004 (toe dit amptelik oorhandig is) het minstens R684 miljoen beloop.
Weber sê hulle het reeds vrae oor die gebou se ligging aan die LUR van openbare werke, paaie en vervoer, Mandla Ndlovu, gerig.

“Dit sluit in om die impakstudie aan die party voor te lê,” sê hy. “Die VF Plus wil ook weet of die departement inspeksies gedoen het om seker te maak die gebou stort nie ineen nie.”
Swaar reën en oorstromings in Ehlanzeni het die afgelope weke reeds miljoene rande in skade aan infrastruktuur aangerig.
Nog moontlike reën word voorspel.
Lees meer hier: Freddy na verwagting op pad na Limpopo en Mpumalanga


×