100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verskeie Laeveld-paaie gesluit weens proteste

Written by on March 8, 2021

Inwoners van Lydenburg het hul protes teen Thaba Chweu-munisipaliteit (TCM) wat Donderdag begin het, Maandag voortgesit.
Die munisipaliteit dreig glo om wanbetalende inwoners se elektrisiteit af te sny.
Tans is die pad na Mashishing steeds gesluit.
Die gemeenskap van Marite hou ook vol om die R538 na die Krugerwildtuin se Numbi-hek af te blok.
Hulle het Woensdag begin om dié pad met vragmotors af te sper.
Moeti Mmusi, die woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sê dat die gemeenskap daarop aandring dat ‘n verdagte, wie se vriendin onlangs verdwyn het, aangekeer word.
Die man is glo ‘n taxi-bestuurder wat gevlug het na sy vriendin se verdwyning.
Maandagoggend is twee trokke oor die pad getrek. Volgens Mmusi is die maatskappye wat hulle besit, gekontak om hulle met die spaarsleutels te verwyder.
Die polisie monitor beide situasies.
Die ingang na Barberton is ook versper deur taxi’s. Motoriste is aangeraai om eerder die Sheba-myn-pad te gebruik vir toegang.

Mmusi voeg by dat mense nie paaie moet blokkeer nie, al is hulle hoe ontsteld, omdat dit soveel ander mense raak.
“Die R538 is baie belangrik omdat toeriste dit gebruik om by Numbi-hek uit te kom,” sê hy.
‘n Raadslid is glo op die toneel om die situasie te help ontlont in Marite.
Ook in TCM hoop hy dat gemeenskapsleiers en die munisipaliteit ‘n ooreenkoms bereik om die situasie te kalmeer.
Konflik tussen TCM en inwoners sleep al sedert verlede jaar voort. Inwoners voer aan hulle ontvang nie die dienste waarvoor hulle die munisipaliteit betaal nie.
In Graskop is ‘n dispuut verklaar en weier lede van die belastingbetalersvereniging om verder te betaal.
Hulle was ook, saam met die belastingbetalersverenigings van Lydenburg en Sabie, instrumenteel in die hofsaak wat in Desember daartoe gelei het dat die hof beslis het dat Eskom nie wanbetalende rade se krag af mag sny nie, tot alle ander opsies probeer is nie.


×