100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bejaarde boer se liggaam op plaas naby Ogies gevind

Written by on March 9, 2021

’n Boer van Mpumalanga is Maandag dood op sy plaas Leeupoort, naby Ogies, gevind.
Bertus Steenberg (70) se liggaam was vasgebind aan ’n voertuig.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, vermoed hulle die voorval het tussen Donderdag en Sondag plaasgevind, omdat sy familie Donderdag nog met hom in kontak was.
Toe hulle egter sukkel om hom daarna te bereik, het hulle die bure gevra om ondersoek in te stel. Hulle het gister op sy liggaam afgekom.
Volgens Hlathi was die huis omgekeer. Steenberg se wit Toyota Hilux-bakkie (met registrasienommer JWC 645 MP) en twee selfone word vermis.
Steenberg is aangerand voor hy verwurg is, sê hy.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting is gevra om speursersant Aubrey Khoza te kontak by 082-604-1339.
Die polisie het ook ‘n geregtelike nadoodse ondersoek begin nadat ‘n 38-jarige vrou en haar sewejarige seuntjie Saterdag in Masoyi, naby Witrivier, doodgebrand het.
Volgens die polisie het die vrou se man Vrydag by vriende gaan kuier. Met sy terugkeer die volgende dag het hy die huis in vlamme aangetref.
Hy het die deur oopgebreek maar sy vrou en kind is op die toneel dood verklaar deur paramedici wat ontbied is.
Enigiemand met inligting is gevra om speursersant Linko Motubatse te kontak by 072-681-8709.

Verder het die Valke Maandag twee mans vasgetrek vir vermeende bedrog en diefstal.
Mlungisi Collen Nkosi (43) het na bewering in Junie 2017 vervalste IRP5-dokumente aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gelewer namens sy maatskappy, Dlami Trading, wat die SAID sowat R950 000 gekos het.
Volgens die woordvoerder van die Mpumalanga Valke, kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, is hy borgtog van R20 000 deur die Nelspruit-hof toegestaan en moet hy weer op 16 Maart verskyn.
‘n Plaaslike prokureur, Themba Daniel Mabunda (48), het ook in die Nelspruit-landdroshof verskyn vir vermeende diefstal.
Hy het glo in Junie verlede jaar ongeveer R310 000 uit sy regsfirma se trustrekening gesteel.
Hy is borgtog van R10 000 toegestaan.

Die saak is na die spesiale hof vir kommersiële misdaad oorgeplaas waar Mabunda na verwagting weer op 26 Mei sal verskyn.


×