100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verdagtes gesoek na transito-roof in Mbombela

Written by on November 10, 2020

Vier* verdagtes word deur die polisie gesoek, nadat hulle Dinsdagoggend ‘n transito-roof by The Square-sentrum in Mbombela probeer uitvoer het.
Die voorval het om ongeveer 10:30 plaasgevind.
Wahl Bartmann, die hoof van sekuriteit by Fidelity, het bevestig dat een van hul wagte aangeval is net nadat hy die Pick n Pay-winkel met kontant verlaat het.
“Die wag het ingeloop om die geld te gaan haal. Toe hy uitloop word hy aangehou deur vier gewapende mans. Hulle het sy vuurwapen en die geld in die houer wat hy gedra het, gevat.”
Dit word as ‘n sypaadjie-roof beskou, die algemeenste vorm van ‘n transito-roof.
Die bestuurder in die Fidelity-voertuig het egter gesien wat gebeur en het die verdagtes met die voertuig begin jaag en het op hulle begin skiet.
Die aanvallers het in ‘n wit Volkswagen Polo gevlug. Die bestuuder van die Fidelity-voertuig het glo die agterruit uitgeskiet.
“Een van die rowers kon nie betyds in die voertuig inkom nie, en hy het toe te voet met die geld gehardloop. Hy het dit iewers in die veld gebêre want hy wou nie daarmee gevang word nie. Ons het die geld teruggekry,” sê Bartmann.

‘n Verbyganger is raakgeskiet. Paramedici wat haar op die toneel behandel het, het bevestig dat die vrou saam met ‘n vriendin verby die toneel gestap het, net toe die skote begin klap.
Sy was gelukkig om slegs ‘n vleiswond op te doen. Die koeël het haar rakelings net bo haar heup getref.
Bartmann voeg by dat geen van hul lede beseer is nie, maar die vuurwapen is weg.
Die aanvallers word deur die polisie gesoek.

*Hierdie storie is aangepas sedert die polisie Dinsdagaand bevestig het dat slegs vier aanvallers betrokke was.
Daar bestaan ‘n sterk vermoede dat van die verdagtes gewond kon wees.
Hospitale is gevra om op die uitkyk te wees vir die verdagtes.
Enigiemand met inlgiting kan kol. Ernest Maoka kontak by 082-318-9843.


×