100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verdagte by begrafnis aangekeer na wenk van die publiek

Written by on June 28, 2022

‘n Man het gister in die hof verskyn vir die besit van ‘n gesteelde voertuig, na hy Saterdag met behulp van die publiek aangekeer is terwyl hy ‘n begrafnis bygewoon het.
Volgens die polisie het hulle ‘n wenk ontvang dat ‘n Isuzu-bakkie, wat glo in Mei in Acornhoek gekaap is, in Phola naby Hazyview opgemerk is.
Met hul aankoms by die toneel is Isaac Potlwane (56) gearresteer. Hy verskyn weer Vrydag vir ‘n formele borgaansoek in Masoyi.

‘n 26-jarige man is ook verlede week by Calcutta aangekeer in besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Die polisie was verlede Donderdag op die toneel waar gekaapte vragmotors gebruik is om die R40 by Marite naby Hazyview te blokkeer.
Terwyl polisielede verkeer beheer het, het hulle ‘n Toyota Yaris met sewe insittendes afgetrek en die vuurwapen gevind. Die reeksnommer is afgevyl en Sesaye Feleka, ‘n Ethiopiese burger, kon nie ‘n permit verskaf nie.
Hy is borgtog van R3 000 toegestaan in die Mkhuhlu-landdroshof.
Die polisie is ook op soek na verskeie verdagtes. In die jongste voorval is ‘n fietsryer dood na hy raakgery is deur vermeende kapers terwyl hulle glo van private sekuriteitsbeamptes gevlug het.
Die slagoffer, in sy vroeë 30’s, is teen druktyd nog nie geïdentifiseer nie.
Volgens die Mpumalanga polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, het vier verdagtes gisteroggend ‘n vragmotor op die N12 probeer kaap. Hulle het in ‘n skietgeveg met private sekuriteitsbeamptes betrokke geraak.
Twee verdagtes is noodlottig gewond. Twee het gevlug en die fietryer naby Sundra getref.
Hulle het daarna te voet gevlug en die voertuig agtergelaat. Dié is na bewering vroeër in Gauteng gesteel.
Enigiemand met inligting oor die verdagtes is gevra om speurder kapt. Linky Olckers by 082-370-0921 te kontak.
Verder is die polisie in Tonga op soek na ‘n jong vrou wat hulle glo geld gesteel het by Maqhawe Gekombineerde Skool.
Sy het in haar hoëdanigheid as administratiewe klerk glo geld van leerlinge ingesamel vir ‘n opvoedkundige uitstappie, en toe daarmee verdwyn.
Sy het glo intussen uit haar huurhuis getrek. Die polisie ondersoek ‘n saak van diefstal.
Enigiemand met inligting is gevra om speurder AO James Khoza te kontak by 079-364-3533.


×